top of page
Writer's pictureMBF

HOF TOE OOR BEURTKRAG EN HEWIGE VERHOGING?

Beurtkrag beinvloed elke liewe Suid-Afrikaner, selfs die skelms... Ja, selfs skelms het elektrisiteit nodig vir hul korrupte transaksies, aldus KW Miller, Voorsitter, CRO Advisors, wat tans werk aan planne om Eskom se opwekking, verspreiding en ander operasionele bedrywighede reg te ruk. Die enigste plek waar die korrupte kabaal nog kan “skep” is by Eskom. Die Poskantoor, Transnet, Denel, SAL ens. se beursies is reeds leeg.

Op ‘n plaaslike vlak, beinvloed beurtkrag landboubedrywighede in die Mafube-gemeenskap baie negatief. Elektrisiteit is ‘n noodsaaklikheid vir die boer van vandag, want dit het ‘n baie gesofistikeerde bedryf geword. Die dae is lankal verby waar “die beeste net in die veld geloop het”, sê Dawie Roodt, Hoof-Ekonoom van die Efficient groep. En sonder ‘n stabiele boerdery gemeenskap, sal die voedselmandjie van Afrika binnekort leeg wees, wat weer ‘n domino-effek op baie ander gebiede sal veroorsaak.


Neil Roets van Debt Rescue sê dat 80% van Suid Afrikaanse gesinne reeds sukkel om ‘n bord kos op die tafel te sit.


Ekonomiese stabiliteit vereis stabiele elektrisiteitsvoorsiening.


Is beurtkrag grondwetlik?


Die departement van openbare ondernemings, die kragvoorsiener Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) kan hulself in die hof bevind oor beurtkrag, is onlangs in die pers berig.

‘n Vooraanstaande advokaat, Tembeka Ngcukaitobi SC, het Vrydag (13 Januarie 2023) bevestig dat hy die steun van groot groepe en individue het om die regering en Eskom hof toe te vat. Dit sluit onder andere in die United Democratic Movement (UDM); Build One SA se leier, Mmusi Maimane; beleidsontleder Lukhona Mnguni; en verskeie kleiner burgerlike instansies. Solidariteit se uitvoerende hoof, Dirk Hermann het gesê sy organisasie sal oor twee weke in die hof wees in verband met beurtkrag.


Ngcukaitobi het gesê die regering se planne om beurtkrag te stop bevat teenstrydige standpunte. Verder glo hy dat Eskom se “arbitrêre manier” waarop beurtkrag periodes sonder waarskuwing bepaal en aangekondig word, onaanvaarbaar is. “Daar is 'n grondwetlike plig van Eskom, en die regering in die algemeen, om elke burger toegang tot betroubare elektrisiteit te gee. Beurtkrag is dus ongrondwetlik.Ons wil d.m.v. die hof, die verskaffer dwing om sy plan, indien een bestaan, bekend te maak. Die algemene gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid moet stop,” het Ngcukaitobi gesê.


Volgens hom sal hofstukke waarskynlik volgende week op Eskom, Nersa en die departement van openbare ondernemings beteken word. Die nasionale kragvoorsiener het fase 6-beurtkrag tot verdere kennisgewing aangekondig, in dieselfde week waarin Nersa ’n byna 19%-verhoging in die elektrisiteitsprys aan die kragvoorsiener vir 2023 en byna 13% vir 2024 toegestaan het.

Verskeie sektore van die samelewing, insluitend energie- en ekonomiese ontleders, het opgemerk dat die huidige stand van energie-opwekking en die verhoogde koste nie volhoubaar vir Suid-Afrika is nie. Die uitwerking van beurtkrag, 'n tariefverhoging van meer as drie keer die huidige inflasiekoers, en die res van Suid-Afrika se verbrokkelende infrastruktuur, skets ‘n hartseer prentjie van 'n land wat ineenstorting in die gesig staar.


Voedselsekerheid


Die Minister van Landbou, Thoko Didiza het op Vrydag (13 Janauarie 2023) in ‘n vergadering met belanghebbendes in die landbousektor gesê dat, indien die land se boere nie op verskillende beurtkragskedules geplaas word nie, die land sy voedselsekerheid in die volgende 24 maande sal verloor.

Beurtkrag en verhoogde tariewe kort die werkskeppingskapasiteit van die landbousektor drasties in. Agri SA se uitvoerende hoof, Christo van der Rheede, het gesê die swaard wat oor die landbousektor se kop hang, nie deur die regering geignoreer moet word nie. Anargie kan uitbreek as daar nie betyds opgetree word nie. Ander gevolge is dat ondernemings, veral die wat nie alternatiewe kragopwekking kan bekostig nie, gedwing kan word om hul deure te sluit, met die noodwendige gevolg van ‘n hoër werkloosheidsyfer.


Besoek MBF by 18 A Kerkstraat, Frankort, stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org of 'n WhatsApp 079 145 4295. (www.mafubebf.org).

0 views0 comments

Comentarios


bottom of page