Onderbrekings van die watertoevoer en vuil, stinkende water is nog steeds aan die orde van die dag in Mafube en probleme word ervaar in elkeen van die 4 Mafube dorpe – dit ten spyte van goeie reëns en stygende riviervlakke.
Frankfort: Hier is gebarste ondergrondse pype die grootste oorsaak van onderbrekings, waarskynlik omdat drukbeheerkleppe nie werk nie of nie in plek is nie. MBF het hierdie probleem al reeds in 2019 onder die aandag van die munisipaliteit gebring en dit word ook uitgewys in ‘n verslag van Nasionale Tesourie as een van die hoofoorsake van grootskaalse verliese van reeds-gesuiwerde water, wat natuurlik gepaard gaan met ‘n finansiële verlies vir die munisipaliteit. Mafube beskik nie op hierdie stadium oor die vermoë om herstelwerk aan gebarste pype uit te voer nie en die gemeenskap bly afhanklik van plaaslike besighede om te help hiermee. Onderbrekings a.g.v. gebarste pype het altyd tot gevolg dat modder en sand in die watertoevoer beland wat verdere frustrasies vir inwoners inhou.
Villiers: ‘n Tweede 11 megaliter reservoir is onlangs teen hoë koste voltooi maar omdat die suiwering- en verspreidingsinfrastruktuur so gebrekkig is, word alle water snags toegemaak om verliese deur die netwerk te verhoed. Die toevoer vanaf die reservoirs word eers weer in die oggend oopgemaak en sommige inwoners moet tot na 8 uur wag vir water. Hier ook is die waterkwaliteit nie op standaard nie.
Tweeling: Hier werk slegs 1 uit 3 van die pompe by die waterwerke en omdat die reservoirs nie volgepomp kan word nie, is inwoners in die hoërliggende gedeeltes van die dorp al vir langer as ‘n week sonder water, terwyl die res van die dorp ook geen water kry gedurende die dag nie.
Cornelia: Omdat water vanaf Frankfort gepomp word, hou enige onderbrekings hier ook ernstige gevolge in vir inwoners op Cornelia. Die bestaande bergingsvolume van die reservoir is te min om die dorp te bedien en gevolglik is ‘n tekort aan water ‘n alledaagse ervaring vir inwoners van Cornelia.
Dit is dus baie duidelik dat daar steeds geen vooruitgang gemaak word deur die munisipaliteit om water aan die gemeenskap te voorsien soos hulle deur die grondwet verplig word nie. Daarenteen is die fokus by Mafube Plaaslike Munisipaliteit nou daarop om miljoene te spandeer en voorafbetaalde watermeters te installeer wat gesien word as die oplossing vir al hulle probleme. ‘n Volledige studie op die onderwerp het tot die volgende gevolgtrekking gekom: “Voorafbetaalde waterstelsels is nie die tegniese towerstaf om onderliggende bestuurskwessies in die lewering van stedelike watervoorsiening op te los nie.'n Diensverskaffer wat tekort skiet aan doeltreffende bestuur en gesonde klanteverhoudinge, sal homself waarskynlik veel meer op die hals haal as wat hy kan hanteer, deur voorafbetaalde stelsels te gebruik.” - The Limits and Possibilities of Prepaid Water in urban Africa: Lessons from the Field Sluit nou by MBF aan! Besoek ons kantore te Kerkstraat 18A gedurende ons besigheidsure, op Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:30 tot 12:30, of kontak Sandra per WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org
Comments