top of page
  • Writer's pictureMBF

Watergehalte in Frankfort drasties beter

AfriForum | Mediaverklaring, 29 Maart 2022


Watergehalte in Frankfort drasties beter ná AfriForum ingryp


AfriForum het die uitslae ontvang wat bevestig dat die watergehalte in Frankfort drasties verbeter het sedert 15 Maart nadat AfriForum die Mafube Plaaslike Munisipaliteit gemaan het om die waterkrisis binne 24 uur aan te spreek. Op 28 Maart het die laboratorium bevestig dat daar nou geen E.coli of enige fekale koliform in die water is nie maar die uitslae van die dieselinhoud in die water is nog uitstaande.


Die aanvanklike uitslae het gewys dat daar hoë vlakke E.coli asook fekale koliform in die water is. AfriForum het op 9 Maart watermonsters geneem by twee waterpunte in die Mafube-distrik en dit by ’n SANAS geakkrediteerde laboratorium in Bloemfontein laat toets. Daar is in samewerking met die Mafube Besigheidsforum nog twee keer opvolg toetse gedoen nadat inwoners gekla het dat die kraanwater na diesel ruik.


AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, Chris Morgan het die skrywe aan die munisipaliteit gerig en die situasie gemonitor. “Dit is teleurstellend dat die Mafube Plaaslike Munisipaliteit eers onder druk geplaas moet word voor hulle hul plig aan die inwoners van Frankfort nakom. Nietemin, inwoners moet asseblief nog versigtig wees om die water te drink totdat ons uitslae ontvang het oor die moontlike dieselinhoud daarvan.”


“AfriForum gaan die waterprobleem in Frankfort saam met Mafube Besigheidsforum steeds monitor en aanhou om die nodige druk te plaas op die regering totdat daar ’n volhoubare oplossing gevind word. Ons sal die gemeenskap in kennis stel sodra ons die verdere uitslae ontvang het,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by AfriForum om sodoende druk op die regering te plaas om hulle verpligtinge teenoor die gemeenskap asook hulle grondwetlike pligte na te kom. SMS “Frankfort” na 45344 (R1) om aan te sluit.


Chris Morgan Distrikskoördineerder: Hoogland | AfriForum Sel: 066 486 7612 | E-pos: chris.morgan@afriforum.co.za

Jaco Grobbelaar Hoof: Sentraalstreek | Gemeenskapstrukture | AfriForum Sel: 066 565 8106 | E-pos: jaco.grobbelaar@afriforum.co.za



2 views0 comments
bottom of page