top of page
  • Writer's pictureMBF

AANSTELLING VAN ADV. LEPHEANA ONWETTIG VERKLAAR

Mafube Besigheidsforum (MBF) het inligting ontvang dat die Burgemeester van Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) opdrag gegee is om die aanstelling van Advokaat Mothusi Lepheana as Munisipale Bestuurder terug te trek.



Mnr. Moses Makume, die Lid van die Vrystaatse Uitvoerende Raad vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Behuising (CoGTA), het in ‘n brief gedateer 9 September 2023, die agbare Burgemeester Thloare Motsoeneng ingelig dat Lepheana nie aan die minimum vereistes vir die posisie voldoen nie en dat die tweede-keuse kandidaat in sy plek aangestel moet word. Dié het blykbaar veel beter gevaar in die verpligte assesering. In die brief word agbare Motsoeneng versoek om dringend die Speaker te vra om so gou moontlik ‘n spesiale Raadsvergadering te belê om die aanstelling van Adv. Lepheana ter syde te stel. Burgemeester Motsoeneng moes binne sewe dae terugrapporteer aan die LUR oor die uitvoering van die opdrag. Waarom so ’n vergadering amper eers twee maande later, op 31 Oktober gehou was, is nie duidelik nie. Die vergadering was sonder kennis aan die publiek in die geheim gehou, sonder om ag te slaan op wetgewing in hierdie verband.


MBF is versigtig optimisties daaroor dat dit nou die einde van Adv. Lepheana as Munisipale Bestuurder van Mafube is. Adv. Lepheana het ‘n lang geskiedenis waarin hy in eie belang optree en het homself gereeld skuldig daaraan gemaak om plaaslike regeringswetgewing en selfs Hooggeregshofbevele te minag. Lepheana is in 2016 tronkstraf opgelê deur regter Dafue wie die volgende van hom te sê gehad het:


“Lepheana het doelbewus probeer om die hof te mislei”.“Sy verontagsaming was nie net moedswillig en male fide (kwaadwillig) nie, maar 'n aanduiding van die hooghartige houding wat so baie senior openbare amptenare aangeneem het. Sy gebrek aan belangstelling om die hof van hulp te wees, is duidelik.” “Sy houding is deurgaans verbysterend en sy optrede ondermyn die agting waarin die amp van munisipale bestuurder gehuldig behoort te word.”

MBF spreek die hoop uit dat die nuwe Munisipale Bestuurder meer toeganklik sal wees en eerder met die besigheidsgemeenskap sal saamwerk om dienslewering te herstel. MBF sal daarop aandring dat die “Stakeholders’ Compact” so gou moontlik geïmplimenteer word.


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.



1 view0 comments
bottom of page