top of page
  • Writer's pictureMBF

DIE KORT EN LANK VAN MUNISIPALE DIENSLEWERING

Hoe kan inwoners ‘n munisipaliteit aanspreeklik hou vir hul optrede (of gebrek daaraan)?

Die kort antwoord

Daar is prosesse hiervoor in plek, maar dit is gewoonlik meer effektief om as 'n gemeenskap te organiseer.

Die lang antwoord

Die Grondwet bepaal dat munisipaliteite die verantwoordelikheid het om seker te maak dat alle burgers van dienste voorsien word om hul basiese behoeftes te bevredig, en dat hulle hierdie pligte so goed moontlik moet nakom binne die begroting en kapasiteit wat tot hulle beskikking is. Die Munisipalestelselswet bepaal dat alle munisipale rade die plaaslike gemeenskap oor munisipale dienste moet raadpleeg en moet die gemeenskap se standpunte in ag neem wanneer daar besluit word oor die wyse waarop dienste gelewer word, die omvang en vlak van dienste wat gelewer word, en beleide en planne.

Munisipaliteite is verplig om prosedures daar te stel vir: • ontvangs en reaksie op petisies, klagtes en dispute wat deur lede van die gemeenskap ingedien is; • kennis te gee van openbare vergaderings, en voorsiening te maak vir openbare kommentaar wanneer toepaslik; • gesprek met plaaslik erkende gemeenskapsorganisasies en, waar toepaslik, met tradisionele owerhede; en • terugrapportering aan die plaaslike gemeenskap.

Dit is wat veronderstel is om te gebeur in 'n funksionerende munisipaliteit. Die meerderheid munisipaliteite in Suid-Afrika is egter tans wanfunksioneel. Redes hiervoor is deur baie bronne ontleed, en sluit in politieke manipulasie, korrupsie, gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid, gebrek aan kapasiteit, swak interne bestuur van finansies, onbevoegde leierskap, swak beplanning, swak monitering en evaluering, en swak burgerdeelname. Die Staatsdienskommissie Suid-Afrika (SDK) en die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika (AGSA) het aanbevelings gemaak om hierdie probleme aan te spreek, maar ongelukkig is hierdie aanbevelings nie ernstig opgeneem nie. Nasionale en provinsiale regering het dikwels bewys dat hulle nie doeltreffend kan ingryp nie. Hulle word gekniehalter deur veral politieke koste, aangesien plaaslike regeringsleiers ’n politieke magsbasis verskaf waarvan baie provinsiale en nasionale politici afhanklik is.

Wat staan u te doen?

Gemeenskappe neem al hoe meer stappe om hulself te organiseer en om hul munisipaliteite hof toe te neem, omdat hulle nie hul grondwetlike verpligtinge om noodsaaklike basiese dienste te verskaf, nakom nie. Sluit aan by ‘n organisasie soos MBF wat alreeds suksesvol in die hof was en veg vir die regte van die gemeenskap.

Besoek MBF by 18 A Kerkstraat, Frankort (vanaf 3 Januarie 2023) of deur 'n e-pos aan te stuur na info@mafubebf.org of ‘n WhatsApp boodskap te stuur na 079 145 4295. (www.mafubebf.org). Volg ons op Facebook.

MBF wens ons lede en die hele Mafube-gemeenskap, 'n aangename vakansie, geseënde Kersfees en 'n voorspoedige 2023 toe.

0 views0 comments
bottom of page