top of page
  • Writer's pictureMBF

INWONERS EN DIE VERJARINGSWET

Die Verjaringswet, No. 68 van 1969 handel oor die verjaring van skuld. Verjaring is 'n regsbeginsel ingevolge waarvan 'n skuldenaar se aanspreeklikheid om 'n uitstaande skuld te betaal, uitgewis word na die verloop van voorgeskrewe tydperke. Bogenoemde sal van toepassing wees, met dien verstande dat die skuldenaar nie gedurende sodanige voorgeskrewe tydperk op enige wyse sy/haar aanspreeklikheid om sodanige skuld te betaal erken het nie. Indien die skuldeiser 'n dagvaarding gedurende die voorgeskrewe tydperk beteken het of waar die skuldenaar aanspreeklikheid erken, sal die verjaringstydperk onderbreek word en weer begin loop vanaf die datum waarop die dagvaarding aldus beteken is of die aanspreeklikheid erken is.

Voorgeskrewe skulde is gewoonlik kontraktuele en siviele skulde wat uitgewis of afgeskryf moet word na 'n tydperk - tipies drie jaar - vanaf die datum waarop die betaling verskuldig was.

Wat is die beperkings van Verjaringswet 68 van 1969?

Ingevolge die Verjaringswet 68 van 1969 ("die Wet"), skryf "skulde" na 'n tydperk van 3 jaar voor. Ten einde die verlies van die wettige reg om 'n eis af te dwing (betaling van 'n "skuld") te vermy, moet 'n skuldeiser verjaring onderbreek deur 'n prosedure teen 'n skuldenaar in te stel voor die einde van die 3 jaar tydperk.

Hoe raak dit Mafube-inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers?

Eenvoudig gestel, waar Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) vir 'n aantal jare versuim het om state uit te stuur en inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers gevolglik nie betalings in terme van munisipale heffings kon maak nie, het die uitstaande skuld ouer as 3 jaar verjaar en mag afgeskryf word. Dit is wel nie van toepassing is op belasting nie, maar steeds is daar vier faktore/vrae om in ag te neem wanneer bepaal word of 'n skuld verskuldig is.

1. Watter tipe skuld is dit? 2. Hoe lank is die toepaslike verjaringstydperk? 3. Wanneer het verjaring begin loop? 4. Is verjaring vertraag of onderbreek?



Mafube Business Forum (MBF) sal die gemeenskap met betrekking tot bogenoemde bystaan om dispute te verklaar waar MPM nie gehoor hieraan wil gee nie. Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers word uitgenooi om ons kantore te 18A Kerkstraat, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp- boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.

0 views0 comments
bottom of page