top of page
  • Writer's pictureMBF

MAFUBE SE BATES – IS DAAR ENIGSINS TOESIG?

Met verwysing na Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) se “oortollige” bates wat verlede week skandelik op openbare veiling verkoop was, is die volgende ‘n groot bron van kommer vir Mafube Besigheidsforum (MBF):


COVID-Toelaag: Gedurende 2020 het MPM 4 nuwe vragmotors gekoop, met behulp van 'n COVID-toelaagtoekenning vanaf die sentrale regering. Dit is nie duidelik wat die toelae beloop het en hoeveel daarvan aan die aankoop van die vragmotors bestee is nie, aangesien geen verwysing in die munisipaliteit se finansiële state gevind kon word nie. Huidige vervangingskoste word geraam op in die omgewing van R1,5 tot R2,0 miljoen per eenheid vir die twee vulliskompakteerdervragmotors en twee watertenkvragmotors. Hoe dit ook al sy, dit was 'n groot uitgawe, wat uiteindelik deur die belastingbetaler gefinansier is.

Onderhoud en dieslewering: Die voertuie verteenwoordig 'n aansienlike belegging in diensleweringsbates. In die lig van die verpligte provinsiale ingryping by MPM, sou 'n mens verwag dat behoorlike bestuurstelsels in plek sal wees om te verseker dat die voertuie effektief in die diensleweringsrol aangewend word, tot voordeel van die gemeenskap, en behoorlik onderhou word om 'n lang dienslewe te verseker.



Ongeldige lisensies en voertuig wat verdwyn: Van wat in die strate van ons dorpe gesien kan word, is dit nie die geval nie. Die relatief nuwe “wit vloot” word beslis onderbenut en klaarblyklik swak onderhou. Verder word die vragmotors onwettig bedryf sonder geldige lisensies, en in die geval van die vulliskompakteervragmotor wat in Villiers en Qalabotjha werk, is die nommerplate om een of ander onbekende rede verwyder. Dié vragmotor het vir 'n rukkie verdwyn, en was glo gesteel, maar was later in ‘n ander provinsie, noord van ons gevind. Dit is te betwyfel of die saak ooit behoorlik ondersoek is en of iemand in die diens van MPM ooit aanspreeklik gehou is. Hierdie aangeleentheid is onder die aandag gebring van die Munisipale Bestuurder, die Administrateur en raadslede teenwoordig by die openbare vergaderings van Oktober 2022.


Wie was/is verantwoordelik?: Nou, twaalf maande later, is daar steeds geen bewyse van enige stappe wat geneem is nie, en die vragmotors word steeds onwettig gebruik. Dit is te betwyfel of die swaar voertuie wat deur MPM besit word, vir hul jaarlikse padwaardigheidstoetse geneem word, soos vereis ingevolge toepaslike wetgewing. Gevolglik is dit onwaarskynlik dat die munisipaliteit se versekeraar enige ongeluks-eis sal uitbetaal. Dit stel nie net die operateur/bestuurder bloot nie, maar ook die vlootbestuurder en uiteindelik die munisipale bestuurder, in die geval van 'n siviele eis wat deur 'n munisipale werker of 'n lid van die publiek ingestel word.


Padwaardigheid: Dit is ook kommerwekkend dat, van die vier “nuwe” voertuie, nie een nog hul noodwiele het nie, en selfs die noodwielmontering en hysmeganisme is van drie van die voertuie verwyder. ‘n Noodwiel is ‘n vereiste vir padwaardigheid. Albei watertenkwaens lek – die konstruksie van die watertenks blyk substandaard te wees en nie geskik vir die doel om water aan die gemeenskap te lewer nie.


Fotos: Lisensie wat reeds in 2014 verval het; Voertuig sonder nommerplaat; Geen noodwiel nie; en lekkende (nuwe) waterkar.


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.


1 view0 comments
bottom of page