top of page

Basiese inligting oor E. coli

Writer's picture: MBFMBF

Gedurende die laaste paar dae is inwoners van Frankfort en veral Namahadi swaar getref deur óf, geen water, vuil water, Diesel-besoedelde water en nou ook water wat deur skadelike patogene bakterieë besmet is. Omdat Cornelia en omgewing water van die Frankfort-watersuiweringsaanleg ontvang, word inwoners daar ook aan die gevare van E. coli en fekale kolivorme blootgestel.


Wat is E. coli? En fekale kolivorme?


Beide Escherichia coli (E. coli) en fekale kolivorme in water, is sterk bewyse van riool of diere-afval besoedeling. Riool- en diereafval kan baie soorte siekteveroorsakende organismes bevat waarvan E. coli as die skadelikste beskou word daarom fokus hierdie artikel daarop. Verbruik van water wat deur E. coli besmet is, kan ernstige siektes tot gevolg hê. Die mense wat die maklikste vatbaar is daarvoor is kinders jonger as vyf jaar oud, diegene met gekompromitteerde immuunstelsels en bejaardes.


Waar kom E. coli vandaan?


E. coli kom van menslike en dierlike afval. Tydens bv reën-neerslag kan E. coli in spruite, riviere, strome, mere of grondwater gespoel word. Indien munisipale watersuiweringsaanlegte nie doeltreffend bestuur word en behandelingstandaarde nagekom word nie, kan E. coli in die munisipale watertoevoer beland en na inwoners se huise, gemeenskaplike krane en tenks versprei word.


Wat gebeur as jy water drink met E. coli daarin?


Siektes wat opgedoen word deur kontak met besmette water kan gastroïntestinale siektes, vel-, oor-, respiratoriese, oog-, neurologiese en wondinfeksies veroorsaak. Die mees algemeen simptome wat aangemend word is: maagkrampe; diarree; naarheid; braking en laegraadse koors. Vir kinders onder vyf jaar oud, diegene met 'n gekompromitteerde immuunstelsel en bejaardes, hou E. coli 'n ernstige gesondheidsrisiko in. Dit kan erge siektes en selfs dood tot gevolg hê. As hierdie simptome teenwoordig is, moet u so gou moontlik 'n kliniek besoek of 'n dokter sien.


Is E. coli aansteeklik?


E. coli kan van diere na mense en mens tot mens oordra. As jy in 'n plek werk wat noue en gereelde kontak tussen mense behels, soos 'n dagsorgsentrum, kan jy 'n groter risiko hê van persoon-tot-persoon E. coli-oordrag.


Maak die kook van kraanwater dit veilig? Maak bleikmiddel kieme dood?


Plaaslike gesondheidsbeamptes reik soms kennisgewings uit wat mense aanraai om water te kook en met die doel om kieme dood te maak wat jou siek kan maak.

As jy nie toegang tot gebottelde water het wanneer so ‘n kennisgewing uitgereik word nie, word dit aanbeveel om kraanwater vir 1 minuut tot kookpunt te bring en dan die water te laat afkoel voordat jy dit gebruik.


Huishoudelike bleikmiddel is 'n effektiewe ontsmettingsmiddel vir water. Die gebruik van 2 druppels bleikmiddel in 1 liter water sal die meeste kieme doodmaak en sal die smaak van die water net ‘n bietjie verander.


WAARSKUWING: Hierdie maatreëls kan effektief wees, maar is nie 100% gewaarborg vir beskerming teen E. coli-infeksies nie.


Vrywaring: Hierdie artikel is nie bedoel om as 'n plaasvervanger vir professionele mediese advies te dien nie en moet nie as gesondheids- of persoonlike advies aanvaar word nie. Soek altyd die leiding van jou dokter of 'n ander gekwalifiseerde gesondheidswerker met enige vrae wat jy mag hê oor jou gesondheid of 'n mediese toestand.



106 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page