Gister, Vandag, Môre…
- MBF

- Nov 28
- 2 min read
Updated: 14 minutes ago

Ses jaar gelede, op 26 November 2019, het Mafube Besigheidsforum (MBF), die Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM), nasionale departemente en plaaslike besighede tydens ’n tweedaagse werkswinkel in Frankfort ’n bloudruk aanvaar om Mafube en soortgelye sukkelende munisipaliteite te red. Hierdie ooreenkoms, bekend as die “Mafube Stakeholders Compact” wat ook ‘n “Gemeenskapskontrak” genoem kan word, het ’n padkaart gebied vir herstel, groei en volhoubare dienslewering.
Vandag, ses jaar later, is Mafube steeds in ’n haglike toestand. Verskeie toesigondersoeke – insluitend dié van die Portefeuljekomitee oor Openbare Rekeninge en Finansies, die Departement van Samewerkende Regering, die Kantoor van die Premier, die Parlementêre Gekose Komitee oor Munisipaliteite en die SA Menseregtekommissie – het eenparig bevind dat die mislukking van Mafube spruit uit jare se wanpraktyke, wanadministrasie en onbevoegdheid van senior amptenare.
MBF is teleurgesteld dat die huidige leierskap by MPM steeds die Gemeenskapskontrak ignoreer en geen ag slaan op ons waarskuwings en aanbevelings nie. Die reeds bestaande gebrek aan vertroue in MPM verdiep, en word vererger deur onreëlmatige uitgawes deur die munisipaliteit, ’n gebrek aan gevolgbestuur en die vervreemding van inwoners en belastingbetalers.
Ons standpunt
Die munisipaliteit behoort aan sy gemeenskap – nie aan ontplooide kaders nie.
Die Gemeenskapskontrak (Compact) bly ’n geldige en relevante raamwerk vir herstel en ontwikkeling.
MBF, met die ondersteuning van strategiese vennote, sal volhard en nie afwyk van die pad wat ses jaar gelede ingeslaan is nie.
Ons oproep
Die implementering van die Gemeenskapskontrak / “Mafube Stakeholders Compact” is nie opsioneel nie – dit is noodsaaklik vir die toekoms van Mafube. Ons sal aanhou druk uitoefen totdat die beginsels van verantwoordbaarheid, samewerking en diensbaarheid weer die grondslag van plaaslike regering vorm.
“'n Beter môre sal nie deur spierkrag en krag bepaal word nie, maar deur wysheid en deursettingsvermoë" – Anoniem.
MBF | 18A Kerkstraat | Frankfort | 079 145 4295 | www.mafubebf.org | info@mafubebf.org | volg ons op Facebook





Comments