HOFOORWINNING VIR MPM? NEE, GELD WAT PENSIOENE KON BETAAL IS OP REGSKOSTES SPANDEER
- MBF
- Jun 6
- 2 min read
Wat ‘n skok!! 'n Lasbrief van R98-miljoen teen Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) in die Vrystaat was verlede week deur die Johannesburgse Hooggeregshof ter syde gestel.
Ironie

MPM en hul regsverteenwoordigers voel heel waarskynlik, hoe ironies okal, in hul skik met die verwikkeling. Ironies? Die enorme bedrag van R98 000 000 se betaling aan die munisipale werkers pensiooenfonds (MWRF) is net uitgestel, die bedrag is nie afgeskryf nie. Die saak was foutiewelik deur die pensioenfonds se regsspan in Gauteng aanhangig gemaak, maar Gauteng het nie jurisdiksie in die saak nie. Die hele proses sal nou weer in die Bloemfonteinse Hooggeregshof herhaal moet word.
Ondeurdagte handelings van MPM, en selfs die regsverteenwoordigers van die pensioenfonds rem en stelsels frustreer die howe se stelsels – dit wen vir hulle tyd maar vermors nog geld (wat daar nie is nie).
Selfs die howe ruik ‘n rot
In Januarie vanjaar is daar deur die Bloemfonteinse Hooggeregshof ‘n uitspraak gemaak waarin die Munisipale Bestuurder, Adv M. Lepheana, die burgemeester en ander, R14 700 000 moet opdok, bykomend tot die R98-miljoen. Regter Lani Opperman noem in die uitspraak (paragraaf 15):
“Die Munisipaliteit sal eerder elke aansoek wat ingedien word om die pensioenfondslede te help, betwis as om sy werknemers se geld aan die Fonds te betaal. Daar is 'n geheimsinnige vertraging eerder as 'n oplossing vir 'n voortdurende onbetwiste probleem, naamlik die niebetaling van die agterstallige pensioengeld van die Fonds se lede aan die Fonds deur die Munisipaliteit.”
Regter Opperman gaan voort:
“Die geskiedenis het geleer dat die Munisipaliteit die regte van bydraers tot die Fonds vertrap, en diegene wat op hul pensioen se groei sal staatmaak wanneer hulle aftree, of dalk vroeër daarop moet staatmaak. Die woorde van Regter Molitsoane, dat wat die Munisipaliteit doen te afgryslik is om te oorweeg, bly sidderend”
Ontduik verantwoordelikheid
Dit blyk nie asof die munisipale bestuurder Advokaat Lepheana hom enigsins steur aan hof uitsprake nie en soek net vir wegkomkans – en doen dit deur skuiwergate te benut, tot dusver heel suksesvol. Dit herinner aan Zuma se “Stalingrad – taktiek”
Mafube se totale skuld aan die MWRF beloop nou meer as R200-miljoen, maar dit lyk nie of die MPM-bestuur en -raad verskriklik bekommerd daaroor is nie. Dit sal interessant wees om te sien hoe Mafube aan die hooggeregshof oor hierdie aangeleentheid rapporteer en hoe hy beplan om sy finansiële verpligtinge na te kom.
MPM moes op 23 June aan die hof rapporteer rakende hul plan om rioolstorting in die Vaal- en Wilgerivier op te los. Eie aan die tendens soos hierbo genoem, het hulle nie die sperdatum gehaal nie – en was MBF ook nie verbaas nie. ‘n Tweede uitstel is aan MPM toegestaan en moet 12 Junie hul verslag (onder eed) aan die Hooggeregshof in Bloemfontein indien.
Kontak Mafube Besigheidsforum, Kerkstraat 18A, Frankfort, 079 145 4295, info@mafubebf.org, www.mafubebf.org
Comentários