top of page
  • Writer's pictureMBF

Inwoners baie boos oor munisipale rekeninge!


Mafube Plaaslike Munisipaliteit (Mafube) het na bykans 5 jaar weer gedurende die laaste week begin om munisipale rekeninge uit te stuur. Mafube Besigheidsforum (MBF) is deur 'n groot aantal inwoners en besighede genader om raad te verskaf, nadat hulle rekeninge ontvang het wat volgens hulle nie sin maak nie a.g.v.: • die hoë uitstaande bedrae; • betalings wat nie reflekteer nie; • fooie wat steeds gehef word vir rommel verwydering waar hierdie diens vir al meer as 2 jaar nie deur die munisipaliteit gelewer was nie; • aangeslaan vir water waar voorafbetaalde watermeters geïnstaleer is; • en waar lesings nooit geneem was nie.

Die MBF se standpunt is dat waar ‘n munsipaliteit soos Mafube nie dienste behoorlik kan lewer soos vereis word in art 162 van die Grondwet nie, inwoners en besighede ‘n reg daartoe het om dispute met hulle munisipaliteite te verklaar. 'n Dispuut wat wettig verklaar is en voldoen aan al die vereistes, het die effek dat die invorderingsproses tydelik opgeskort word, totdat die dispuut tot bevrediging van albei partye opgeklaar word.

Waar die akuraatheid van ‘n munisipale rekening betwis word en ‘n volledig gestaafde wettige dispuut verklaar word (net soos in hierdie geval teen Mafube), beskik elke verbruiker (inwoner, belasting betaler en besigheidseienaar) oor die reg om betaling van daardie gedeelte van die rekening te staak, en het munisipaliteite, in terme van Artikel 102 (1) (c) van die Munisipale Stelsels Wet 32 van 2000, geen reg om enige invorderingstappe teen so ‘n verbruiker in te stel nie.

MBF onderneem om elke inwoner, besigheidseienaar en belastingbetaler by te staan met raad en dispuutverklarings in gevalle soos bo beskryf, en nooi hulle uit om ons kantore te besoek by Kerkstraat 18A Frankfort, gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae 8h30 – 16h00 en Vrydae vanaf 08:00 tot 12:30. Kontak ook Marina per WhatsApp by 079 145 4295 of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org

1 view0 comments
bottom of page