top of page
  • Writer's pictureMBF

Mafube Begroting – dieselfde ou truuks...


Dit is met belangstelling dat Mafube Business Forum (MBF) kennis neem van die komende Begrotingsvergadering van 24 Mei, soos geadverteer in die Frankfort Herald van 10 Mei.

Daar was 'n mate van hoop onder besighede, inwoners en belastingbetalers dat, nadat MBF 'n gunstige uitspraak op 28 April 2022 gekry het, dinge uiteindelik ten goede sou verander by Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MLM). Daar is gemeen dat die verpligte provinsiale ingryping en die span “finansiële en administratiewe kundiges” tesame met 'n stewige Munisipale Finansiële Herstelplan (MFRP) die broodnodige verskil sou maak, maar ongelukkig, nee. Dit blyk dat die politiek nou meer as tevore sy lelike kop uitsteek en die Mafube-gemeenskap die swaarste moet dra. Jaar na jaar word ons gekonfronteer met dieselfde ou truuks...


Waar is die "Administrateur"?

Toe hy aangestel is as Provinsiale Uitvoerende Verteenwoordiger, meer algemeen bekend as "Administrateur", het mnr. Mkaza persoonlik 'n rits verbintenisse aangegaan in ooreenstemming met sy amptelik "Terms of Reference". Hy is getaak om toesig te hou oor die artikel 139-ingryping, nakoming van plaaslike regeringswetgewing te verseker, veral m.b.t. finansiële beheermaatreëls en om 'n geloofwaardige befondsde begroting te verseker. Hy sou voortdurend met belanghebbendes in gesprek tree, maar dit is amper 2 jaar sedert dit in enige vorm gebeur het - hy bly steeds "vermis in aksie". MBF verstaan ​​dat mnr. Mkaza gesondheidskwessies het, en uit die getuienis van adv Lepheana by die SAMRK-ondersoek, kry hy min ondersteuning vanaf die provinsiale owerhede. Dit is onverskoonbaar, en indien wel waar, is dit in stryd met die uitspraak van die Hooggeregshof wat die Provinsiale Uitvoerende Bestuur verplig om alle toepaslike stappe te neem om te verseker dat die munisipaliteit “sy verpligtinge nakom om basiese dienste te lewer of om sy finansiële verpligtinge na te kom”.


Openbare deelname?

Soos vir vorige jare, maak MLM 'n bespotting van openbare deelname. Die publiek is uitgenooi na 'n rits openbare vergaderings gedurende April, waarvan nie een gerealiseer het nie. Kennisgewings in die plaaslike media het die publiek genooi om begrotingsverwante dokumente te inspekteer en kommentaar daarop te lewer, wat na bewering vir 'n beperkte tydperk by alle munisipale kantore en openbare biblioteke beskikbaar sal wees. MBF het die munisipale kantore en openbare biblioteke in alle Mafube-dorpe besoek in die hoop om bogenoemde dokumente te bekom maar niks was beskikbaar nie. Munisipale amptenare kon nie, toe hulle gevra is, die dokumente verskaf of help om dit te bekom nie. Daar is nie op korrespondensie met MLM in hierdie verband gereageer nie; die Waarnemende Munisipale Bestuurder ignoreer steeds sy verantwoordelikhede in hierdie verband. Sy optrede is strydig met die bepalings van Hoofstuk 4 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, wat redelik spesifiek is oor die verpligtinge van 'n munisipaliteit, m.b.t. oorlegpleging met, en om die gemeenskap in te lig oor die jaarlikse munisipale begroting.


Min tyd, maar geen dokumente beskikbaar

Met inagneming van die nie-beskikbaarheid van bogenoemde dokumente en die beperkte tyd wat beskikbaar is, word die regte van die gemeenskap om ingelig te word en aan die besluitnemingsproses deel te neem, vertrap.


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons ​​webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.

6 views0 comments

Comentários


bottom of page