Regter Mareena Opperman van die Bloemfonteinse Hooggeregshof het die Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) en van sy senior amptenare sterk veroordeel en persoonlike kostebevele teen hulle uitgereik. Na talle vorige hofbevele, is daar steeds versuim om pensioenbydraes van munisipale werkers aan die pensioenfonds oor te betaal.

Moontlike Kriminele Klagtes wat kom?
Die burgemeester Thloare Motsoeneng, die vorige finansiële hoof, Dimakatso Tau, die munisipale bestuurder Advokaat Mothusi Lepheana en die afgetrede Administrateur Mnr. Thomas Mkaza, is beveel om gesamentlik en afsonderlik meer as R14,7 miljoen aan die Munisipale Werkers Aftreefonds oor te betaal. Opperman het beveel dat 'n afskrif van die uitspraak by die Vrystaatse Direkteur van Openbare Vervolging ingedien moet word en dat dié op sy beurt binne 60 dae 'n skriftelike verslag van die vordering van die ondersoek moet lewer na die optrede van die betrokke amptenare in terme van die Pensioenfondswet. Hierdie is gewigtig, want dit kan daartoe lei dat kriminele klagtes ook teen die amptenare ingestel word – vir elkeen tot R10-miljoen en/of 10 jaar gevangenisstraf.
Die munisipaliteit het nie die eis betwis nie, maar wel die persoonlike aanspreeklikheid van die genoemde amptenare teengestaan. Hulle staan dit teen omdat verskillende amptenare gedurende hierdie tyd in daardie ampte gedien het, en sommige slegs in ‘n waarnemende hoedanigheid was. Maar die regter sê dat die amptenare nie kan maak of dat hulle nie weet wat die bepalings van die Wet is nie, of dat hulle persoonlik vir nie-betaling en skade wat dit veroorsaak aanspreeklik sou wees nie.
“Hulle het die verantwoordelikheid aanvaar toe hulle hul amp aanvaar het. Die datum van aanstelling en bedanking is irrelevant vir die aanspreeklikheid. Wat betekenisvol is, is dat die respondente in hul amp was toe die eis ingedien is,” het sy gesê. “Die gevolge vir die werknemers-lede, wat onskuldige omstaanders is, is ernstig. Persoonlike aanspreeklikheid van amptenare is nodig om die skale van geregtigheid gelyk te maak. Volgens die Pensioenfondswet is hul optrede krimineel.”
‘n “Gesiglose en Onaantasbare Oortreder”
Regter Opperman het die munisipaliteit “'n gesiglose en onaantasbare oortreder” van die Pensioenfondswet (PFA) genoem wie tot nadeel van die grondwetlike regte van die betrokke werknemers-lede optree en dat “die munisipaliteit vir baie jare onwettig aanspreeklikheid ontduik het.” Sy het verwys daarna dat op ‘n vorige geleentheid die munisipaliteit R40-miljoen na ‘n onverklaarde bankrekening geskuif het.
“Die verlede wys dat sake rakende oortredings wat teen die munispaliteit gebring word, eerder deur hulle met koste teengestaan word, as om die probleem aan te spreek en op te los...”
“Die regskoste wat die litigasie sedert 2011 onderhou het en sekerlik uit die sakke van die belastingbetaler kom, skets 'n somber prentjie," het sy gesê.
Die volledige uitspraak en ‘n analise deur ‘n regskundige kan hieronder afgelaai word:
Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore te Kerkstraat 18A, Frankfort vanaf 08h30 tot 16h00 op Maandae tot Donderdae en vanaf 08h00 tot 13h00 op Vrydae te besoek. Bel of WhatsApp Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.
Commentaires