top of page
  • Writer's pictureMBF

MAFUBE - VERHOGINGS VIR RAADSLEDE?

Die raad van Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) het in 'n geslote vergadering op Woensdag 30 Augustus, blykbaar ten gunste van verhogings in hul vergoedingspakkette gestem. Wat die verhogings gaan wees, is nie duidelik nie weens die geheimhouding rondom die vergadering. Terloops, die Wet op Munisipale Stelsels bepaal dat alle raadsvergaderings oop moet wees vir die publiek, tensy 'n spesifieke beleid en 'n verordening wat daaraan uitvoering gee, in plek is. In die geval van MPM bestaan geen beleid of verordening om publieke toegang tot vergaderings van die raad en sy komitees te beperk nie.



In die lig van die haglike finansiële toestand van die munisipaliteit soos weerspieël in die Status Quo-verslag van die Nasionale Tesourie, is dit die mening van Mafube Business Forum (MBF) dat dit heeltemal onvanpas is dat MLM in hierdie stadium selfs verhogings vir sy raadslede oorweeg. Dit sal ook oneties wees vir raadslede om verhogings te aanvaar waar 'n munisipaliteit nie kan bekostig om sy werkers gereeld en betyds te betaal nie, en nie dienste aan sy gemeenskap kan lewer, soos dit grondwetlik verplig is nie.

So, hoeveel word Raadslede betaal?

In ooreenstemming met die Staatskennisgewing van 2 Junie 2022, word die boonste perke van die jaarlikse totale vergoedingspakkette van deeltydse (gewone) raadslede in 'n graad 3-munisipaliteit soos MPM, vasgestel op R280 603.00, terwyl die vergoeding vir raadslede in voltydse poste soos bv. as burgemeesters en komiteevoorsitters, wissel van R360 107.00 tot R494 655.00 Dit is waarskynlik dat die verhogings waarvoor raadslede gestem het, gelyk sal wees aan die verhoging wat aangekondig is vir eiendomsbelasting en munisipale diensheffings, d.w.s. 8,5%. Dit sal gewone raadslede se vergoedingspakette opstoot tot R304 454.25 per jaar en hul totale vergoedingsrekening tot ongeveer R5.8-miljoen.

Is dit bekostigbaar?

Eenvoudig gestel - nee. MPM is vir alle doeleindes bankrot en word kunsmatig aan die lewe gehou, tot nadeel van belastingbetalers. Volgens MBF is raadslede polities aangestelde amptenare wat koste by die munisipale stelsel voeg - dit is debatteerbaar of van enige waarde. Sonder 'n drastiese verbetering in die plaaslike ekonomie en groei van die munisipale belastingbasis, is enige bykomende finansiële las op MPM nie net onbekostigbaar nie, maar moontlik vernietigend. Munisipale raadslede behoort verantwoordelik op te tree, 'n voorbeeld vir amptenare en werkers stel, en nie salarisverhogings aanvaar nie, totdat b.g. eknonomiese herstel nie plaasgevind het nie.

Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.

0 views0 comments
bottom of page