top of page
  • Writer's pictureMBF

MBF se Slaggat Projek: Hier is ons Plan!

Agtergrond: Terwyl Mafube Plaaslike Munisipaliteit sowat 3 jaar gelede, van tyd tot tyd nog in Frankfort en elders slaggate gevul het, was dit maar altyd sporadies en halfhartig gedoen, met metodes en materiaal wat maar net altyd ‘n tydelike oplossing vir die groeiende probleem sou wees. In ag genome dat Mafube nie oor die vermoë of wil beskik om enige instandhouding van sy uitgebreide infrastruktuur te doen nie, het reeds, en sal veral die teerstrate in ons dorpe nog verder verbrokkel en agteruitgaan, totdat daar niks van oor is nie. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan is Cornelisstraat in Villiers wat die hoofroete vir swaarvoertuie deur die dorp is en wat nou algeheel herbou moet word deur teen hoë koste.

Die vraag bestaan altyd of die verwaardelosing van infrastruktuur doelbewus is, omdat munisipaliteite baie eerder tenders sou wou uitreik, as om instandhouding te doen. MBF is sowat ‘n jaar gelede op die been gebring om ‘n verskil te maak aan toestande in ons dorpe binne die Mafube munisipale gebied en ‘n einde te maak aan die algemene verval, maar MBF se optrede was en is steeds grotendeels geskoei op onderhandelinge en druk op die owerhede om die nakoming van beste praktyk en toepaslike wetgewing te verseker. In ons persverklaring van 30 Junie vanjaar het ons dit gestel dat “...Alhoewel ons goed op dreef is en ons voorgenome teikens reeds behaal is, wil MBF dit graag onomwende stel dat dit nie ons doel is om dienste by die munisipaliteit oor te neem nie en ook nie om die gemeenskap met verdere kostes te belas nie. Dus moet daar geen verwagting by inwoners wees dat daar binnekort enige verbetering van die situasie by Mafube Plaaslike Munisipaliteit sal wees nie – om dit reg te kry en volhoubaar te maak is steeds ‘n opdraende stryd wat ons gewillig en met vertroue voer”. Tydens November 2019 het MBF in samewerking met die munisipaliteit en verskeie regeringsdepartemente, ‘n volhoubare oplossing ter tafel gelê om spesifiek dienslewering en instandhouding te bewerkstellig. Die “Mafube Stakeholder’s Compact” behels onder andere: • ‘n Oorsigkomitee waarin die gemeenskap verteenwoordig word; • ‘n Voorwaardelike amnestie op alle agterstallige diensfooie en eiendomsbelasting, om sodoende “op ‘n skoon bladsy” te begin; • ‘n “ring-fenced” munisipale rekening uitsluitlik vir dienslewering; • die aanwending van tegnologies-gevorderde en koste-effektiewe stelsels • onderhandelinge met krediteure; en • nie-inmenging in die sake van die munisipaliteit nie. Dit is teleurstellend dat Mafube steeds onwillig is om hom tot samewerking wil bind, en dat MBF gevolglik geforseer word om na alternatiewe uitwegte te kyk, wat nie regsaksie sal uitsluit nie. 1ste Fase Alhoewel dit nie MBF se doelstelling was om direk betrokke te raak met herstelwerk van enige aard nie, en die vul van slaggate steeds gesien word as die verantwoordelikheid van die munisipaliteit, het die geleentheid tydens September vanjaar opgeduik, toe ons genader was deur ‘n kundige wat ‘n werkbare voorstel aan ons gebied het. Die voorstel was dat, as ‘n eerste fase, ons sou begin met ‘n aanslag wat sou dien as ‘n studie om aan ons die ervaring te gee en om die volgende vas te stel: • die beplanning benodig; • wetlike aspekte; • metodiek; • tydfaktor; • materiaal, arbeid en toerusting benodig; en • ‘n kostebepaling, om sodoende dan hierdie projek op ‘n koste-effektiewe en volhoubare wyse te bedryf tot die voordeel van besighede en inwoners, en die Mafube-gemeenskap in die geheel.

MBF is trots om aan te kondig dat hierdie fase van ons Slaggat Projek suksesvol afgehandel was na 10 dae se harde werk. Danksy ruim bydraes vanuit die gemeenskap; en ook uit ander oorde, het ons genoeg materiaal bekom om ‘n begin te maak met hierdie projek. Groot aantal slaggate in Beckwith en J.J. Hadebe straat was tydens die 1ste fase herstel om as proef te dien vir die metodiek en aanwending van die vullingsmateriaal. Ons is nou gereed om voort te gaan.

Die Pad vorentoe Na volledige assesering van die suksesvolle opleidingsfase, beskik MBF nou oor die vermoë om met die volgende fases voort te gaan. Inwoners word herinner daaraan dat na meer as 20 jaar se verwaardelosing, hulle nie wonderwerke te wagte moet wees nie en ook nie oornag ‘n verskil sal sien nie, maar dat hulle wel verseker kan wees dat dit MBF se doelwit is om mettertyd ‘n 100% verbetering te bewerkstellig – al neem dit hoe lank ookal.

MBF het besluit om voorlopig ‘n voorwaardelike konsessie aan mnr. Johan Lourens toe te staan om hierdie projek te bestuur en vanaf Maandag 17 Oktober, sal werk aan ons strate weer hervat word, maar met ‘n ander modus operandi. Alhoewel meeste van die materiaal wat benodig word aan ons geskenk was, bly die grootste kostekomponent steeds arbeid en toesig. Om hierdie rede sal MBF borgskappe benodig en sal voorkeur gegee word aan strate en gedeeltes op ‘n ‘first come, first served” basis, waar voldoende bydraes deur inwoners en besighede gemaak word nadat MBF ‘n kwotasie aan hulle verskaf het. Materiaal reeds voorsien sal in berekening gebring word. Ons het reeds ‘n prioriteitslys daarvolgens opgestel en die volgende strate sal binnekort aangepak word:

1. Carolinastraat 2. Frankfortstraat, vanaf die brug tot by J.J. Hadebestraat 3. Markstraat vanaf onder tot by Parkstraat 4. Strydomstraat vanaf J.J. Hadebestraat tot by die skool Ons wil graag inwoners en besighede hiermee aanmoedig om saam te span en MBF te kontak, sodat hulle strate ook aandag kan geniet. Wees asseblief verseker dat daar totale deursigtigheid met hierdie projek sal geskied en alle tersaaklike inligting sal by ons kantoor beskikbaar wees.

Ondersteun hierdie projek Dit is baie duidelik dat ons nog meer steun van ons inwoners en besighede nodig sal hê, en donasies in enige vorm sal waardeer word. Besoek MBF se kantore te Kerkstraat 18A gedurende ons besigheidsure, op Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:30 tot 12:30, of kontak Sandra per WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org



www.tirereview.com

1 view0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page