top of page

Munisipale Bestuurder van Mafube Bedank

  • Writer: MBF
    MBF
  • Jun 27
  • 2 min read

Adv. Mothusi Lepheana
Adv. Mothusi Lepheana

Die Mafube Besigheidsforum (MBF) neem kennis van die bedanking van Advokaat Lepheana, die munisipale bestuurder van Mafube Plaaslike Munisipaliteit.

As dinge warm raak: Hoewel geen amptelike rede vir sy bedanking bekend gemaak is nie, word daar vermoed dat dit moontlik verband hou met die toenemende druk wat op hom geplaas is om resultate te lewer. Ten spyte van herhaalde vergaderings met MBF en talle beloftes, het daar min of geen werklike vooruitgang in munisipale projekte plaasgevind nie. Dit was duidelik ‘n geval van baie praat, maar min aksie.

Afwesigheid van bestuur: Die gebrek aan daadwerklike munisipale bestuur het ‘n ernstige uitwerking op die inwoners en sakelui van Frankfort en die res van die Mafube-area. Basiese munisipale funksies soos instandhouding van infrastruktuur, waterdienste en dienslewering het verswak tot op ‘n punt waar gemeenskappe daagliks self moet inspring en oplossings vind.

Vertroue, deursigtigheid en kommunikasie: Die MBF doen hiermee ‘n beroep op die munisipale raad van Mafube en die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake om ‘n opvolger aan te stel wat die nodige bevoegdheid, ervaring en integriteit het om die munisipaliteit funksioneel te herstel. Die nuwe bestuurder moet nie net oor die administratiewe vermoë beskik nie, maar ook die vertroue van die gemeenskap en besigheidsgemeenskap kan wen. Hy moet toeganklik wees, die gemeenskap eerste stel en ag slaan op die belangrikheid van kommunikasie, deur op briewe en eposse te reageer.

Nie ‘n kader nie asseblief: Ons kan dit nie bekostig dat hierdie belangrike posisie weer gevul word deur middel van politieke kader-ontplooiing nie. Mafube het ‘n bekwame, verantwoordbare en oplossingsgedrewe leier nodig – iemand wat daadwerklik ‘n verskil sal maak.

Die MBF het en sal steeds voortgaan om ‘n aktiewe rol te speel in die monitering van munisipale aanstellings en dienslewering, en spreek sy bereidwilligheid uit om konstruktief saam te werk met enige toekomstige munisipale leierskap wat werklik toegewyd is aan diens aan die gemeenskap.

Comments


bottom of page