top of page
  • Writer's pictureMBF

R186 Miljard verdwyn met geen nagevolge of aanspreeklikheid nie!


Verslae van die Ouditeur-generaal (OG), het onthul dat tydens die afgelope dekade, R186 Miljard uit die rekenings van munisipaliteite verdwyn het weens “onreëlmatige uitgawes“. Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het onlangs ook verklaar dat daar in die boekjaar 2019/2020, R26 miljard se “onreëlmatige uitgawes” by munisipaliteite was, en dat van die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika, slegs 27 skoon oudits ontvang het. In die Vrystaat het geen munisipaliteit 'n skoon oudit gehad nie met 8 munispaliteite wat nie eers hulle finansiele state ingedien het nie. MBF is op navraag aan Nasionale Tesourie meëgedeel dat Mafube eers gedurende Februarie vanjaar state vir die vorige 2 boekjare ingedien het en gevolglik is die uitslae hiervan nog nie beskikbaar nie.

Die OG het aan die Parlement gesê dat die Finansiële toestand van munisipaliteite in Suid-Afrika, nog steeds versleg weens ‘n gebrek aan aanspreeklikheid en swak bestuur. Gemiddeld word 46% van die begrotings van munisipaliteite vir salarisse en vergoeding vir die Raad gebruik, terwyl slegs 2% vir onderhoudsuitgawes gaan. Dit is dus geen verrassing dat die munisipale infrastruktuur in duie stort nie. In sy begrotingsrede was Raadslid Jabulani Sigasa trots om af te kondig dat die munisipaliteit van Mafube beoog om meer as R20-miljoen op instandhouding te spandeer wat persentasie gewys meer is as Tesourie- riglyne, maar het nagelaat om te erken dat dit sowat R10-miljoen minder is as wat in 2016 gespandeer was.

Hierdie skrikwekkende, maar nie verrassende syfers nie, is gedeeltelik te blameer op “die gebrek aan bevoegde amptenare by munisipaliteite“ en die OG het erken dat baie munisipaliteite konsultante moes gebruik, wat ‘n koste van R1 miljard in die boekjaar 2020 beloop het, net om basiese finansiële state saam te stel, al is dit iets wat veronderstel is om binnenshuis gedoen te kan word. Mafube kon selfs met behulp van konsultante, nie betyds finansiële state opstel en indien nie.

Hierdie treurige toedrag van sake by munisipaliteite is niks nuuts nie. Gedurende die afgelope dekade het die OG dikwels die gebrek aan optrede teen korrupte amptenare betreur. Oud-ouditeur-generaal Kimi Makwetu het gereeld gewys op die gebrek aan gevolge in die plaaslike regering as die hoofrede vir gebrekkige dienslewering en swak finansiële bestuur. In die verlede kon die OG slegs sy ouditbevindinge en aanbevelings aan die munisipaliteit voorlê, maar Munisipale bestuurders, (wat in baie gevalle die oortreders is) het natuurlik nie die aanbevelings nagevolg nie, en gevolglik was daar geen optrede teen die skuldiges nie.

Die wysigingswet op openbare oudit, wat in April 2019 afgekondig is, het dit verander en die Ouditeur-generaal kan nou vermoedelike onreëlmatighede na relevante openbare liggame, insluitend die Valke, openbare beskermer, of SAPD verwys vir verdere ondersoek. Daar kan ook regstellende stappe afgedwing word as die plaaslike owerheid haar aanbevelings ignoreer of nie voldoende toepas nie.

Ons nooi u uit om ons kantore te besoek by Kerkstraat 18A Frankfort, gedurende ons besigheidsure, op Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 08:30 tot 12:30. Kontak ook Marina per WhatsApp by 079 145 4295 of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org

1 view0 comments
bottom of page