Riemland Erfenis Groep: Bewaar ons streek se geskiedenis
- MBF
- 3 days ago
- 2 min read

'n Nuwe vereniging, Riemland Erfenis Groep (REG), is die week gestig om die ryk geskiedenis van die Riemland te bewaar en te vier. Op Maandag, 18 Augustus, het geskiedenisliefhebbers uit die gemeenskap en geskiedkundiges onder leiding van die voorsitter van Mafube Toerisme, Erika Lessing, saamgekom. Die groep se visie is die bewaring van die Riemland se unieke kultuurgeskiedenis, en nooi almal uit om deel te neem. Foto’s en stories en plekke moet bewaar word. Elkeen se storie is belangrik en waardevol.
Die Riemland is bekend vir sy ryk geskiedenis, insluitend tekens van reuines uit die steentydperk, ou blokhuise, grotte waar mense tydens oorloë weggekruip het, en fossiele vespreid oor die streek. Daar is ook kliphuise van meer as 200 jaar oud naby Tweeling, saam met grafte en artefakte wat hul belangrikheid deur die geskiedenis heen bewys. Die stigting van REG is noodsaaklik om hierdie ryk erfenis te beskerm vir ons nageslag voordat dit permanent verlore gaan.

Roelf Pretorius, beskik oor ‘n uitgebreide kennis van die Anglo-Boere Oorlog en die rol van blokhuise. Hy is tans besig om al die blokhuise op te soek tussen Heilbron en Memel. Sy passie vir die geskiedenis van die streek dra by tot die bewaring van belangrike historiese inligting.
Oom Ludwig Ankiewicz, 'n gerespekteerde historikus en skrywer van verskeie boeke oor die geskiedenis van die omgewing, het ook sy kennis gedeel oor belangrike gebeurtenisse wat in die 1800's plaasgevind het, selfs voor die Voortrekkers binneland toe getrek het. Sy insigte bied 'n waardevolle perspektief op die vroeë geskiedenis van die streek.
Die interessande geskiedenis van die Tweeling- en Petrus Steyn-gebied word verder verken deur Deon van der Watt, wat bekend is vir sy besonderse manier om geskiedenisstories te vertel.
Die samevoeging van die gemeenskap se stories en kennis bied 'n unieke kans om die verlede van die Riemland-omgewing beter te verstaan, te waardeer en te bewaar.
"Jy moet verstaan dat geskiedenis nie net 'n versameling feite is nie; dit is deel van ons erfenis en ons identiteit. Dit speel 'n groot rol in toerisme, wat op sy beurt 'n groot invloed op die plaaslike ekonomie het," het Lessing tydens die ontstaan van die vereniging gesê. Sy het die deelnemers ook aangemoedig om nie net hul kennis te deel nie, maar om hul stories en foto's te bring wat die geskiedenis van die Riemland kan illustreer en bewaar.
Die vereniging wil alle gemeenskapslede, geskiedenisliefhebbers, en kenners uitnooi om in te skakel en hul passie te deel. REG sal verskeie inisiatiewe en programme in die komende maande loods, wat insluit besoeke aan historiese plekke, werkswinkels oor die bewaring van artefakte, en geleenthede om gemeenskapslede se stories op te teken en te deel.
"Ons glo dat deur samewerking en die deel van kennis, ons ons erfenis kan bewaar en versorg vir die toekomstige generasies," het Lessing afgesluit.
Met die stigting van REG is daar hoop vir 'n hernude belangstelling in die geskiedenis van die plaaslike gebied, wat nie alleenlik op die lewenservarings van die inwoners nie, maar ook op die volhoubaarheid en moontlikhede vir toerisme in die streek fokus.
Vir meer inligting oor REG en hoe om betrokke te raak, kan belangstellendes e-pos na info@mafubebf.co.za
Comentarios