top of page
  • Writer's pictureMBF

Watervoorsiening - Skoon drinkwater is 'n basiese mensereg

'n Aanmaningsbrief is gister 16 Maart 2022 aan die Munisipale Bestuurder van Mafube Plaaslike Munisipaliteit oorhandig. Dit volg na uitslae van watertoetse wat op 15 Maart 2022 ontvang is. Die verslag het aangedui dat die watertoevoer in Frankfort E. coli sowel as fekale kolivorme bevat, wat die water gevaarlik maak, en dus nie geskik vir menslike gebruik nie.

In die brief word gevra dat die kwessie binne 24 uur reg gestel word, omdat dit beskou word as ‘n ernstige probleem. Die versuim van die Munisipaliteit om sy verpligtinge na te kom ten op sigte van watervoorsiening, is ‘n skending van ‘n basiese mensereg van inwoners van Frankfort en sy omgewing.


Terwyl die onlangse Dieselstorting (9 Maart 2022) in die Wilgerivier aan Transnet toegeskryf word, moet ernstige vrae aan die munisipale bestuur gevra word, wat niks gedoen het om te verseker dat inwoners se drinkwater nie besoedel word nie. Die storting stroomop in die Meulspruit, 'n sytak van die Wilgerivier, is wyd in die media oor berig en dit is onverskoonbaar dat die bedreiging nie deur diegene in beheer van ons waterinfrastruktuur erken is nie.


Selfs nadat die water wat “na paraffien ruik” deur inwoners aangemeld is, was daar geen optrede vanaf Mafube nie. Eers nadat die saak deur Mafube Besigheidsforum (MBF) gerapporteer is, 'n paar hoëvlak parlementêre besprekings en die Spilltech-opruimingspanne in Frankfort aangekom het, was daar ‘n mate van beweging by die munisipaliteit te bespeur. Daar was egter geen kommunikasie aan bekommerde inwoners nie.


Die toetsuitslae wat Transnet gister 16 Maart 2022 ontvang het, toon geen tekens van koolwaterstowwe (spore van diesel) nie. 'n Besluit is deur die munisipale bestuurder geneem om voort te gaan met die onttrekking en behandeling van water vanuit die rivier, wat aan inwoners versprei en verkoop moet word. Dit blyk dus dat geen oorweging geskenk word aan die aanmaningsbrief en die watertoetsresultate wat skadelike organiese stowwe aandui nie. Dit moet nog gesien word of enigiets aan inwoners gekommunikeer sal word en of enige stappe geneem sal word om die situasie reg te stel.


Dit bly onverklaarbaar hoe personeel wat die watersuiweringsaanleg van Frankfort bedryf, nooit iets buitengewoons opgemerk het as daar wel by standaard bedryfsprosedures gehou is nie. Volgens 'n beëdigde verklaring van 5 Augustus 2021 wat by die hooggeregshof ingedien is, en deur die munisipale bestuurder onderteken is, was 'n laboratorium by die watersuiweringswerke vir die toets van watermonsters op daardie stadium in aanbou. Tot vandag toe bestaan daar nie so 'n fasiliteit nie.


Dit is duidelik dat Mafube nie sy grondwetlike verpligting nakom deur veilige drinkwater aan inwoners te lewer nie. Skoon drinkwater is 'n basiese mensereg. Die besoedeling van drinkwater was nie geïdentifiseer en reggestel nie. Die vraag is of Mafube en sy Munisipale Bestuurder aanspreeklik gehou moet word, en die antwoord is 'n definitiewe: “Ja”.


Hangende die uitslag van verdere watermonstertoetse, sal MBF ander remedies tot ons beskikking oorweeg om hierdie saak op te los. Dit kan 'n hofaansoek om 'n bevel insluit wat die Munisipaliteit verplig om aan sy grondwetlike en statutêre verpligtinge te voldoen. Indien dit toepaslik geag word, sal 'n bykomende bevel aangevra word om voorsiening te maak vir die indiensneming van 'n gespesialiseerde privaat kontrakteur om aandag te gee aan die nodige, waarvan die koste deur die munisipaliteit gedra sal moet word.


Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers kan ons kantore by Kerkstraat 18A besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of Marina kontak op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org



1 view0 comments
bottom of page