top of page
  • Writer's pictureMBF

DIE MINISTER SÊ DIE GEMEENSKAP MOET HELP MET WATER...


Ons minister van die Departement van Water en Sanitasie (DWS), Senzo Mchunu het onlangs in ‘n TV-onderhoud erken dat Publieke Privaat Gemeenskapsvennootskappe (PPCP's) betrokke moet raak by hul omgewing se Waterbehandeling- en Afvalwaterbehandelingswerke.

 

Alhoewel dit duidelik gemaak is dat munisipaliteite nie hul magte sal prysgee nie, het die minister ‘n beroep gedoen tot samewerking tussen openbare, private en burgerlike organisasies. Die doel is om hulpbronne beter te benut asook om besoedeling te voorkom.

 

Om beheer oor infrastruktuur prys te gee, is ‘n groot hindernis vir munisipaliteite – insluitend Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM). Volgens die grondwet is ‘n munisipale verpligting die voorsiening van veilige drinkwater aan inwoners, maar tog blyk dit vir vele munisipalteite belangriker dat ‘n paar amptenare en kaders “ander” voordele trek uit prosedures. MPM het 0-telling gekry vir elk van sy vyf rioolaanlegte in die onlangse Groendruppel assesering en kon slegs 4.25% behaal in die Bloudruppel evaluering - die swakste in die Vrystaat en waarskynlik die hele land!

 

Daar is reeds bestaande voorbeelde waar privaat entiteite water- en afvalinfrastruktuur suksesvol bestuur. ‘n Ekstra bonus daarvan is dat so reeling ekstra werksgeleenthede skep, en dat die ekonomie stimuleer word.

 

DWS het in sy Bloudruppel-evaluering van 5 Desember 2023 kennis geneem van die haglike toestand van bestuur en drinkwatergehalte in die Cornelia Frankfort-, Tweeling- en Villiers-watervoorsieningstelsels. Verslae beskikbaar hier: www.mafubebf.org. MPM is onder regulatoriese toesig geplaas en die Munisipale Bestuurder moes 'n gedetailleerde regstellende aksieplan binne 20 dae na publikasie van hierdie verslag indien.

 

Dit sal interessant wees om te sien of die (Waarnemende) Munisipale Bestuurder wel aan die DWS-voorskrif voldoen het, en of enige oorweging gegee word vir samewerking met die private sektor en die gemeenskap.

 

MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons ​​webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.

 

21 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page