top of page
  • Writer's pictureMBF

“EQUITABLE SHARE” – 'N REDDINGSBOEI VIR MAFUBE?

Updated: Jul 29, 2022


In die Staatskoerant van 15 Junie 2022 is ’n verhoging van R28,9 miljard in die toekenning van “Equitable Share Grant (ESG)” toekennings aangekondig wat onder provinsies en munisipaliteite verdeel sal word, ingevolge die Wet op Verdeling van Inkomste 5 van 2022.

Wat is 'n “Equitable Share Grant”?


‘n “Equitable Share Grant” (ESG) is ‘n onvoorwaardelike toekenning vanaf die nasionale regering wat aan plaaslike regerings betaal word. Die hoofdoel van die ESG is om munisipaliteite by te staan met die koste van gratis basiese munisipale dienste aan die armes. Die som van die ESG wat 'n munisipaliteit ontvang, hang af van verskeie komponente waaronder die grootte van sy lae-inkomste bevolking, die koste van basiese dienste en sy vermoë om sy eie inkomste in te samel.


Hoe sal Mafube voordeel trek uit die ESG?


Die nasionale departement verantwoordelik vir plaaslike regering moet 'n munisipaliteit se ESG na die primêre bankrekening van die munisipaliteit oorplaas. 'n Totale bedrag van R118 903 000 is aan Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) toegeken vir die 2022/3 finansiële jaar. Die bedrag sal in drie paaiemente oorbetaal word, nl.: 6 Julie 2022, 7 Desember 2022 en 15 Maart 2023. Dit sal oor die volgende twee jaar verhoog word na R127 257 000 en R136 313 000.


CoGTA het in ‘n nuusberig verklaar dat hulle vrees dat munisipaliteite wat sukkel om salarisse te betaal, die ESG juis daarvoor gaan aanwend. Sou MPM hierdie roete volg, sal hy skaars genoeg fondse hê om dit na te kom. Die rede daarvoor is omdat sy maandelikse rekening vir salarisse en vergoeding van raadslede meer beloop as R12-miljoen. Dus sal die ESG net tydelike verligting bring, want baie min sal oorbly vir dienslewering. In so geval sal belastingbetalers weer die rekening moet betaal om politici en 'n oorbevolkte munisipale arbeidsmag in diens te hou, terwyl die armes, vir wie die ESG toekenning bedoel is, geen voordeel daaruit trek nie.


Registrasie van behoeftiges – hoekom is dit so belangrik?


Die grootste bydraer tot die ESG is die basiese dienste-komponent. Dit is 'n toekenning wat aan elke munisipaliteit toegeken word, bereken deur die maandelikse subsidie per huishouding te vermenigvuldig met die opgedateerde aantal huishoudings onder die bekostigbaarheidsdrempel (behoeftiges) in elke munisipale gebied. Ten einde aanpassings te maak en die ESG jaar na jaar te verhoog, is dit die verantwoordelikheid van elke munisipaliteit om 'n opgedateerde lys van behoeftiges op 'n gereelde basis aan die Tesourie te verskaf. Na bewering het MPM dit sedert 2013 nie gedoen nie.


Mafube Besigheidsforum (MBF) het die saak reeds onder die aandag van die leier van die provinsiale intervensiespan gebring en is tans besig met ‘n veldtog om groter bewustheid te kweek binne Mafube, om daardeur die ESG toekenning te verhoog om sodoende die talle behoeftiges binne ons gemeenskap van basiese dienste te verskaf.


Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org.

3 views0 comments
bottom of page