top of page
  • Writer's pictureMBF

“FIBRE FOR MAFUBE” – WAAROM MBF BRIEK AANDRAAI

Dit is onder die aandag van Mafube Business Forum (MBF) gebring dat inwoners van Frankfort deur personeel van 'n toonaangewende internetdiensverskaffer (ISP) genader is vir toestemming om pale op hul eiendom op te rig vir die nuwe optiesevesel-internetnetwerk wat na Mafube kom. Almal, insluitend MBF, is opgewonde en sien daarna uit om in die nabye toekoms nog 'n betroubare hoëspoed-internetverskaffer te hê, wie ook hul produkopsies teen baie mededingende tariewe bied.



Dit is egter waar die opwinding eindig. Die proses wat deur advokaat Lepheana, die onwettig-aangestelde munisipale bestuurder van Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) as 'n "unsolicited bid" geadverteer is, gee letterlik eksklusiewe regte aan 'n maatskappy van Vereeniging, aan wie die bod op 'n baie twyfelagtige wyse toegeken is, om die veselnetwerk in Frankfort te bedryf. Dit word gedoen sonder behoorlike inagneming van MPM se eie verkrygingsbeleid en die bepalings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. Besware van die gemeenskap en 'n diensverskaffer wat al 'n aantal jare internetdienste aan inwoners en besighede verskaf, word eenvoudig geïgnoreer. Omdat MPM tans onder verpligte provinsiale ingryping bestuur word, het Lepheana geen reg om eensydig besluite te neem wat die gemeenskap raak nie. Die munisipale raad was nooit in die saak geken nie.

King Paul Enterprise, die maatskappy aan wie die bod vir Frankfort toegeken is, het belowe dat 300 nuwe werksgeleenthede geskep sal word, volgens die kennisgewing wat op 4 Augustus vanjaar in die Frankfort Herald verskyn het. Behalwe dat dit totaal onrealisties en misleidend is, skep dit verwagtinge binne die plaaslike gemeenskap waaraan nie voldoen kan word nie, en 'n ongewenste uitkoms tot gevolg kan hê.


MBF is nie tevrede met die wyse waarop werknemers van internetdiensverskaffers (ISP's) en/of agente van maatskappye wat namens hulle optree, toestemming probeer kry vir die oprigting van internetinfrastruktuur op privaat eiendom nie. Eienaars word meegedeel dat "die area tussen die boulyn en grens" 'n serwituut is waarop MPM en ISP's 'n reg het. Dit is onwaar - 'n serwituut moet by die aktekantoor geregistreer word. Inwoners mag sekerlik hul toestemming gee dat ISP's hul eiendom betree, maar MBF is bekommerd dat deur die ondertekening van die toestemmingsbrief, inwoners die ISP se verkoopspan en die munisipaliteit die reg gee om hul persoonlike inligting met ander partye te gebruik en te deel.

MBF het aan die betrokke ISP en verskeie betrokke partye ‘n skrywe gerig en hulle aangeraai dat die projek gestaak moet word totdat 'n behoorlike, regverdige en deursigtige proses in plek is, wat voldoen aan bestaande riglyne, beleide en toepaslike wetgewing.


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.


2 views0 comments

Comments


bottom of page