top of page
  • Writer's pictureMBF

HOE 'STUKKENDE' MUNISIPALITEITE LANDBOU BENADEEL

Die munisipale verval in Suid-Afrika is oral sigbaar, en volgens 'n kenner op die gebied van landbou en voedselsekerheid, dr. Caryn Abrahams, het die gebrek aan verantwoordbaarheid sy ongesonde wortels wyd versprei. Sy beveel aan dat nasionale regering die verrotting in toom moet hou.


Hoekom het party munisipaliteite ineengestort en hoe raak dit landbouproduksie?


Dr. Abrahams is van mening dat ekonomies-gedrewe bedrywe soos landbou nie hoef te betaal vir 'n gebrek aan basiese dienslewering in gemeenskappe nie.


“Terwyl daar bydraende faktore is, kan die blaam vierkantig geplaas word op die wanbestuur van fondse op munisipale vlak.”


“Ons moet probleme op die naam noem en nie doekies omdraai nie - dit sluit ontbloting van korrupsie in. Ons het onetiese, onverantwoordbare leierskap op munisipale vlak waar hulle die munisipaliteit sien as 'n plek om hulself te verryk uit die fondse wat veronderstel is om aan bepaalde projekte gewy te word. As sodanig word dit 'n punt waar plundering, korrupsie en wanbestuur van fondse verlammend is. Dit is hoekom ons sien dat 'n groot persentasie munisipaliteite nie funksioneel is nie, wat daartoe gelei het dat hulle onder administrasie geplaas is.”


Boere spring gereeld in om paaie reg te maak, en slaggate te "lap". Moet die staat intree en kortings aanbied?


“Ek dink oor die hele land het ons gesien hoe groepe gemeenskapslede, insluitend boere, betrokke raak by die herstel van infrastruktuur as gevolg van gebrekkige dienste. Ek is egter nie seker of die regering ooit iets soos kortings sal gee, of tariewe en belasting verlaag nie, want dit is kontant uit gemeenskappe wat die munisipaliteite kry, en om dit te subsidieer, sal nogal moeilik wees.


Dit sal ook beteken dat daar 'n soort graderingsmeganisme in plek moet wees om erkenning te gee aan wat gedoen word. Wanneer boere help, is dit gewoonlik uit demokratiese burgerskap. Hulle doen dit nie namens die munisipaliteit nie, maar eerder om hul omgewing te verbeter.”


Wie moet omsien na gunstige werksomgewings vir groot en klein ondernemings binne munisipaliteite?


“Munisipaliteite moet inter-regeringsverhoudinge hê, om bepaalde beleggings en ekonomiese ontwikkelingsprojekte te lok. Gunstige omstandighede moet vir landbou en ondernemings bestaan om beleggings vanuit hierdie oorde aan te moedig.

'n Munisipaliteit kan nie besluite namens sake-ondernemings neem nie, maar 'n munisipaliteit moet wel dienslewering verseker. Indien dit nie gedoen word nie, is die gevolg dat besighede en fabrieke na ander munisipaliteite skuif, waar daar wel na hul behoeftes omgesien word. ‘n Voorbeeld is waar Clover Lichtenburg verlaat het. Die provinsiale- en nasionale owerhede moes betrokke geraak het.”


Bestaan daar 'n politieke wil om die verval van munisipaliteite aan te spreek?


“Ek dink die politiek in kiesafdelings beinvloed die wil om die verval van munisipaliteite aan te spreek. Ek dink die politiek van provinsiale stelsels in ons land, word beinvloed deur die spesifieke politieke oorwegings van die regerende party op plaaslike en provinsiale vlak.”







Besoek ons MBF-kantoor by Kerkstraat 18A, Frankfort, stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org of 'n WhatsApp na 079 145 4295. Volg MBF op Facebook en besoek ons webwerf www.mafubebf.org

2 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page