top of page
  • Writer's pictureMBF

HOF BESLIS: INWONERS MAG ESKOM DIREK BETAAL

Inwoners van Vanderbijlpark en Vereeniging kan die Emfuleni-munisipaliteit, wat Eskom miljarde rande skuld, voortaan systap en hul kragrekenings direk aan Eskom betaal.

Die hooggeregshof in Pretoria het die afgelope week beveel Emfuleni moet Eskom as agent aanstel om sy hele elektrisiteitsfunksie oor te neem. Dit is volgens MC Botha van die prokureursfirma MC Botha Ingelyf, wat van die partye verteenwoordig het, die eerste keer dat ’n hof so ’n bevel maak.



‘n Straat in Emfuleni. Dienslewering in die munisipaliteit is so swak dat die hooggeregshof die afgelope week beveel het Eskom moet die elektrisiteitsverspreiding oorneem. Foto: Deon Raath

David Mertens, verteenwoordiger van die vereniging vir sakekamers Asac, sê: “Dit stel die grondslag daar vir optrede teen ander munisipaliteite wat nie die reëls nakom nie.”

Wat presies die uitspraak vir die munisipaliteit en sy personeel beteken, is nog nie duidelik nie.

Die hof het die munisipaliteit en munisipale bestuurder ook skuldig bevind aan minagting van die hof weens die versuim om die Eskom-rekening te betaal. Ook die energiereguleerder, Nersa, is aan minagting van die hof skuldig bevind omdat hy niks aan die stand van sake gedoen het nie.

Kobus Janse van Rensburg, voorsitter van die Emfuleni-belastingbetalersvereniging wat deur die sambreelliggaam Emfuleni for Change deel van die hofsaak was, sê Emfuleni se sewe grootste nywerheidsgebruikers het reeds in 2018 toestemming by die hof verkry om Eskom direk te betaal. Die inwoners wou dieselfde bedeling hê.

Sedert 2018 is 2 270 amptelike geskille tussen huishoudings en die munisipaliteit oor kragkwessies reeds aangemeld. Die inwoners hou die betalings wat daarmee verband hou terug. Die bedrag beloop al meer as R1,2 miljard, maar dit lyk nie of dit die munisipaliteit kwel nie. Dit word eenvoudig nie opgelos nie.

“Ons het verlede jaar 16 hofsake gewen waar die munisipaliteit verbruikers se kragtoevoer wou staak, maar daar onafgehandelde dispute was,” sê Janse van Rensburg.

Volgens hom is daar boonop sedert 2019 ’n groot skroef los met Emfuleni se kragtariewe wat al 175 000 rekeninghouers raak. Die belastingbetalersvereniging gaan lede help om hul rekenings te herbereken en regstellings te eis.

Eskom sal ingevolge die hofbevel ’n spesiale rekening open vir betalings wat hy namens die munisipaliteit by verbruikers invorder. Met dié geld moet hy al sy uitgawes in Emfuleni en die munisipaliteit se skuld dek. Hy mag ook ’n tarief vir sy werk namens die munisipaliteit hef. Nersa moet die bedrag goedkeur. Eskom moet kwartaalliks aan Emfuleni verslag doen en enige surplus in die rekening aan die munisipaliteit uitbetaal.

Die hof gee Eskom en die munisipaliteit ses maande om ’n ooreenkoms te bereik met sperdatums vir die oorname. So nie, moet hulle terug hof toe. Die partye mag die ooreenkoms nie beëindig tensy Eskom, Emfuleni en Nersa daaroor ooreenstem of die hof tevrede is dat Emfuleni weer op sy eie ’n doeltreffende diens kan lewer nie.

As ’n mens na Eskom se prestasie oor die afgelope 20 jaar kyk, is dit nie die aangewese instelling om munisipaliteite se elektrisiteitsfunksie oor te neem nie.

Volgens die uitspraak het Emfuleni se skuld aan Eskom van R1 miljard in 2018, toe die kwessie die eerste keer voor die hof was, toegeneem tot R3,5 miljard in 2021, al het die munisipaliteit 90% van die geld wat verbruikers vir elektrisiteit moes betaal, ingevorder.

Teen einde verlede jaar was dit meer as R5 miljard. Pleks daarvan om sy Eskom-rekening te betaal, het die munisipaliteit die geld vir daaglikse uitgawes aangewend.

Die hof het Nersa se verweer dat hy aktief probeer het om die kwessie op te los, verwerp en gesê Eskom se pleidooie by die reguleerder het op dowe ore geval. Van die verbruikers het in 2019 gevra dat Nersa Emfuleni se kragverspreidingslisensie opskort, maar dit is volgens die uitspraak afgekeur sonder dat Nersa enige ander oplossing gebied het. “Die elektrisiteitsbestuur in Emfuleni het verder agteruitgegaan en Nersa kon dit duidelik sien.”

Morné Mostert, hoof van munisipale sake by AfriForum, sê die situasie in Emfuleni is die resultaat van die “absolute onvermoë” van Nersa, wat veronderstel is om alle verbruikers in Suid-Afrika te beskerm en dié wat nie aan die reëls voldoen nie, vas te vat en indien nodig die verspreidingslisensie op te skort. “Wat is die nut van Nersa as hy dit nie doen nie?”

Mostert sê dit is duidelik dat die hof in die rigting begin beweeg om agente aan te stel om staatsfunksies by wanfunksionele munisipaliteite oor te neem.

“As ’n mens na Eskom se prestasie oor die afgelope 20 jaar kyk, is dit nie die aangewese instelling om munisipaliteite se elektrisiteitsfunksie oor te neem nie.”

Antoinette Slabbert | Netwerk24 | Kommentaar

0 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page