top of page
  • Writer's pictureMBF

Hofaansoek teen rioolstorting

Updated: Feb 13, 2022

AfriForum ondersteun gemeenskap in Frankfort in hofaansoek teen rioolstorting

AfriForum ondersteun die gemeenskap in Frankfort in 'n dringende hofaansoek om 'n interdik teen die Mafube Plaaslike Munisipaliteit te bekom om sodoende die munisipaliteit te verplig om onwettige rioolstorting in die Wilgerivier te stop. In die aansoek word daar onder meer versoek dat die munisipaliteit die nodige onderhoud aan die infrastruktuur aanbring om die rioollekkasies te stop en om dringend hul Eskom-rekening te betaal sodat kragtoevoer na rioolpompe nie onderbreek word nie.

Dié dringende aksie volg nadat AfriForum, in samewerking met die Mafube Business Forum 'n hofaansoek teen die Mafube Plaaslike Munisipaliteit geloods het, waarin daar gevra word dat die nasionale regering moet ingryp teen die swak dienslewering, asook instandhouding en administratiewe funksies wat nie plaasvind nie. Mafube is in die Noord-Oos Vrystaat, en sluit die volgende dorpe in: Cornelia, Frankfort, Tweeling en Villiers.

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê die aansoek wat handel oor swak dienslewering is einde Maartmaand op al die betrokke partye beteken. Hulle het kennis gegee van hulle voorneme om te opponeer, maar geen verdere antwoordende verklarings is ontvang nie. AfriForum se regspan is dus genoodsaak om die aangeleentheid op die ongeopponeerde hofrol te plaas. Die hofdatum is vir 29 Julie 2021 vasgestel. Morgan voeg by dat die dringende hofaansoek geloods is omdat dit noodsaaklik is vir die gemeenskap om tussentydse verligting te bekom terwyl die diensleweringsaansoek nog hangend in die hof is. Dus ondersteun AfriForum die gemeenskap om hierdie verligting te bekom. Onwettige rioolstorting hou nie net 'n gesondheidsrisiko vir die gemeenskap in nie, maar die skade wat dit aan die omgewing se ekostelsel aanrig is beduidend.

MBF nooi inwoners, besigheidseienaars en belastingbetalers uit om ons kantore te besoek by Kerkstraat 18A Frankfort, gedurende ons besigheidsure, Maandae tot Donderdae vanaf 08:30 tot 16:00, Vrydae vanaf 08h30 tot 12h30. Kontak ook Marina per WhatsApp by 079 145 4295 of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org




3 views0 comments
bottom of page