top of page
  • Writer's pictureMBF

IS JOU DISPUUT WETTIG EN GELDIG?

Mafube sit met 'n tamaletjie, want munisipale dienslewering is nie op standaard nie, selfs al word die munisipaliteit deur die grondwet verplig om aanvaarbare dienste op plaaslike vlak te lewer. Om uit verset of frustrasie bloot u rekening te ignoreer en nie te betaal nie, is egter teen die wet. Bly eerder binne die perke van die wet en verklaar 'n wettige en geldige dispuut.

Soos vervat in Artikel 102 (2) van die Munisipale Stelselswet 32 van 2000, mag u 'n dispuut teen die munisipaliteit verklaar. Baie inwoners en besigheidseienaars het dit reeds gedoen. MBF wil u graag aanmoedig om dit na te gaan en op te dateer, ter beskerming van u saak, vir ingeval die situasie intussen verander het.

Mafube Besigheidsforum (MBF) is bewus daarvan dat Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) tans onder leiding van die Administrateur en ‘n span van die provinsiale tesourie besig is met ‘n nuwe invorderingsveldtog. Dit blyk dat veral besighede en selfs skole nou geteiken gaan word met dreigemente en intimidasie taktieke in ‘n poging in om hulle te oortuig om betalings aan die munisipaliteit te maak. Daarenteen word geen ondernemings gemaak deur die munisipaliteit en intervensiespan om dienslewering te verbeter soos deur die hof gelas is nie.

MBF is voortdurend in gesprek met ons regsspan en sal ten alle tye verantwoordelik, binne die raamwerk van die wet optree, in belang van die hele Mafube-gemeenskap. MBF se standpunt ten opsigte van die volgende het nooit verander nie en ons dring steeds aan op: 1. Amnestie op ou munisipale skuld; 2. koste effektiewe stelsels; 3. korrupsie-vrye finansiële bestuur; en 4. publieke deelname.

MBF dring aan op totale amnestie, maar omdat die uitslag van ‘n hofgeding nooit vooraf 100% seker is nie, word die gemeenskap aangemoedig om hulself te beskerm deur steeds voorsiening te maak vir die betaling van maandelikse munisipale rekeninge, deur daardie bedrag in hul eie spaarekeninge te deponeer.

MBF beveel aan dat indien inwoners, besigheidseienaars en belastingbetalers nie tevrede met munisipale dienslewering is nie of nie saamstem met bedrae wat deur die munisipaliteit geëis word nie, ons nader vir advies rondom die verklaring van dispute. Indien u reeds ‘n dispuut in plek het en u situasie moontlik verander het, beveel ons aan dat u ons kantoor besoek om u dispuut te hersien en op te dateer.

MBF se kantoor sal vanaf 19 Desember tot 3 Januarie gesluit wees vir die Feesgety. In 'n noodgeval sal Jacques Jansen van Vuuren beskikbaar wees op 083 456 3252.

MBF besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org Besoek ons webwerf by www.mafubebf.org en volg ons op Faceboek.


0 views0 comments
bottom of page