IS MAFUBE SKADELIK VIR SY GEMEENSKAP?
- MBF

- 2 days ago
- 2 min read

In die mees onlangse verslag van die Ouditeur-generaal (2024/5 ) word dit duidelik gemaak dat, ondanks die ingryping deur die provinsiale owerhede en miljoene gespandeer by die Mafube Munisipaliteit, die bestuur en munisipale Raad steeds geen vordering maak in terme van administrasie, finansiële dissipline en verantwoordbaarhouding nie. Dienslewering aan die gemeenskap het volgens die OG verslag, verswak en nie verbeter nie.
Die Burgemeester van Mafube, raadslid Thloare Motsoeneng* was opgewonde om bekend te maak die 2024/5 finansiële state betyds, voor die wetlike sperdatum ingedien was. V ir tien jaar lank het MPM versuim om hierdie verpligting na te kom. MPM het konsultante teen hoë koste (meer as R5-miljoen) aangestel om die state voor te berei – ‘n funksie waarvoor die Hoof Finansiële Beampte (CFO) verantwoordelik is. Volgens Nasionale Tesourie riglyne moet ‘n ooreenkoms met konsultante aangegaan word vir die oordrag van vaardighede om die munisipale bestuur in staat te stel om self state voor te berei en dit aan die OG kantoor te lewer voor die wetlik-bepaalde sperdatum.
By ‘n vergadering met MBF op 18 September verlede jaar, het die huidige munisipale bestuurder, Jemima Selepyane hierdie riglyn vanaf Tesourie bevestig, maar herhaalde versoeke om besonderhede van die ooreenkoms met MBF te deel, word steeds geïgnoreer deur beide die Munisipale Bestuurder en die betrokke konsultante.
Die 2024/5 OG Verslag het ‘n reeks van bekommernisse uitgelig, onder meer:
Ongemagtigde, onreëlmatige, verkwistende en vrugtelose uitgawes bly steeds onaanvaarbaar hoog, met geen gevolgebestuur wat toegepas word nie;
Slegs 15% van dienslewering doelwitte is bereik (water, riool, vullisverwydering ens);
Meer as 70% van duur gesuiwerde water gaan verlore a.g.v. swak bestuur en infrastruktuur wat nie onderhou word nie;
Lae invorderingskoers, foutiewe stelsels en rekeninge wat nie aan verbruikers gelewer word nie; en
Onreëlmatige toekenning van tenders
*Die status van Raadslid Thloare Motsoeneng as Burgemeester van Mafube is ten tyde van hierdie verklaring onbekend. Gerugte bestaan dat hy uit die pos gelig sou word as gevolg van sy voortgesette verset teen die provinsiale politieke leierskap.
MBF | Kerkstraat 18A | Frankfort | 079 145 4295 | info@mafubebf.org www.mafubebf.org | Facebook.





Comments