Dit is vir Mafube Besigheidsforum (MBF) ‘n voorreg om bekend te maak dat ‘n kontrakteur reeds aangestel is om die herstelwerk aan die R26 tussen Frankfort en Tweeling te hervat en so spoedig moontlik te voltooi. Phezulu Plant (Pty) Ltd het onlangs die pad tussen Senekal en Ventersburg suksesvol voltooi en MBF is vol vertroue dat hierdie maatskappy oor die kundigheid en kapasiteit beskik om die nodige werk te kan doen.
Daar sal reeds op Maandag 27 Desember met die dringende beveiliging en instandhouding van die verbyroetes begin word. Die kontrakteur is ook versoek om ook aanbevelings te maak met betrekking tot die gevaarlike Frankfort Heilbron aansluiting, omdat hierdie aansluiting nie teen 90° is nie en dat swaarvoertuigbestuurders gevolglik nie die aankomende verkeer vanaf Heilbron kan sien nie.
Die Vrystaatse Premier Sisi Ntombela, vergesel deur William Bulwane, die LUR vir Paaie, Polisie en Vervoer, het ook bekend gemaak dat tydelike poste geskep sal word vir ongeveer 1 350 subkontrakteurs en hul werkers, tydens die R26 padwerke, wat verwag word om binne 24 maande voltooid te wees.
MBF wil graag sy dank uitspreek teenoor Gert Potgieter en die Tweeling Boerevereniging, die Distriks Landbou Unie, die Mafube Taxi Assosiasie asook subkontrakteurs wat oorspronklik aan die pad gewerk het, en gesamentlik die drukgroep gevorm het. Hierdie is ‘n sprekende bewys daarvan, dat volgehoue gemeenskapsdruk werk. Verdere protesaksie sal dus voorwaardelik opgeskort word, maar die situasie sal voortdurend gemonitor word.
Besoek gerus die MBF kantoor te Kerkstraat 18A in Frankfort wanneer ons weer op 3 Januarie oopmaak. U kan ook 'n e-pos stuur na info@mafubebf.org of ‘n WhatsApps na 079 145 4295.
Comments