top of page
  • Writer's pictureMBF

Mafube besoedel steeds ten spyte van hofbevel

Updated: Mar 3, 2022

Op 29 Julie 2021 het die Hooggeregshof in Bloemfontein Mafube Plaaslike Munisipaliteit beveel om die volgende stappe te doen:

1. Om effektiewe bestuur en instandhouding by die rioolaanleg uit te voer; 2. alle nodige herstelwerk uit te rig; 3. inspeksies op 'n gereelde basis te doen; 4. onmiddellik optree indien 'n krisis ontstaan; 5. stappe te neem om besoedeling en rioolstortings te voorkom; 6. monsters van uitvloeisel op aanvraag beskikbaar te stel; 7. elke 2 weke 'n vorderingsverslag in te dien; en 8. gereelde betalings aan Eskom te doen, om te verseker dat die rioolaanleg voltyds in werking is.

Die munisipaliteit het teen die bevel geappelleer en die aansoek om verlof tot appèl is op 4 Februarie 2022 aangehoor. Ons wag tans op die voorbehoue uitspraak op genoemde aansoek.

MBF het sy eie gereelde inspeksies gedoen en met foto's, video's en waterowerheidsverslae as bewyse, gevind dat die munisipaliteit steeds nie hul verpligtinge nakom nie, maar enige optrede teen amptenare is opgeskort, hangende die uitslag van die aansoek.

Die aangehegte Waterkwaliteitverslag toon duidelik dat Mafube se rioolsuiweringsaanlegte nie volgens 'n aanvaarbare standaard bedryf word nie, met e-coli en fekale koliforme vlakke van water wat in die Vaal- en Wilgerivier vrygestel word, as onaanvaarbaar hoog. Dit blyk dat die situasie vererger en buite die beheer van die munisipaliteit is.

Die SA Menseregtekommissie is tans in gesprek met die munisipaliteit en het gevra vir hul reaksie op die onlangs gepubliseerde watergehalteverslag. Mafube Plaaslike Munisipaliteit word gesien as die grootste sondebok is as dit kom by die besoedeling van die Bo-Vaalrivierstelsel. Ten spyte van hofbevele wat teruggaan na 2004; die jongste van 29 Julie 2021, gaan rioolstortings onverpoosd voort. Nie net die gesondheid en veiligheid van ons eie gemeenskap word hierdeur beïnvloed nie, maar miljoene ander watergebruikers wat van die Vaalrivierstelsel afhanklik is.

MBF doen 'n beroep op die Mafube-gemeenskap om nie rioolstortings en stukkende infrastruktuur te ignoreer nie – dit moet aangemeld word. Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org

2 views0 comments

Comments


bottom of page