top of page

Mafube Burgemeester se Jaarverslag – net dieselfde ou storie

  • Writer: MBF
    MBF
  • 24 minutes ago
  • 2 min read

Op 6 Februarie 2026 het die Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) ’n kennisgewing in die Frankfort Herald geplaas om die gemeenskap in te lig dat die Jaarverslag nou beskikbaar is vir openbare insae. Inwoners is ook uitgenooi om hul kommentaar en insette te lewer.


Vir die Mafube Besigheidsforum (MBF) was dit egter ietwat onverwags, aangesien hulle die munisipale bestuur al verskeie kere herinner het aan hul wetlike verpligting om binne sewe maande ná die einde van die finansiële jaar ’n volledige verslag aan die gemeenskap voor te lê. Só ’n verslag behoort ’n duidelike oorsig te gee van die munisipaliteit se aktiwiteite en finansiële posisie. Volgens plaaslike regeringswetgewing is die gemeenskap – inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers – ’n belangrike rolspeler wat die reg het om ingelig te wees en betrokke te raak by munisipale aangeleenthede.


Die MBF het die 2024/2025 Jaarverslag deeglik bestudeer en, binne die beperkte tyd wat beskikbaar was, kommentaar daarop gelewer. Daar is kommer uitgespreek oor sekere teenstrydighede tussen die Jaarverslag en die bevindinge van die Ouditeur-Generaal. Volgens MBF dui dit daarop dat daar moontlik nie genoegsame sorg geneem is met die samestelling van die verslag nie, wat tot onakkuraathede en weglatings kon lei.


Verder is daar vrae oor sommige van die bewerings rakende sogenaamde “sleutel-infrastruktuurmylpale”. Die projekassesseringsverslag en die Ouditeur-Generaal se bevindinge skets ’n ander prentjie en dui daarop dat verskeie projekte nog nie volledig afgehandel is nie. MBF is ook van mening dat beter toesig oor diensverskaffers nodig is om te verseker dat projekte betyds en volgens standaard voltooi word.


Soos in hul gevolgtrekking uiteengesit, behou MBF die reg voor om enige aangeleentheid rakende die bestuur van die munisipaliteit in die toekoms weer onder die aandag te bring indien dit nodig geag word.


Die 2024/2025 Jaarverslag is beskikbaar op die munisipaliteit se amptelike webwerf: www.mafubelm.co.za.

 

 

Comments


bottom of page