top of page
  • Writer's pictureMBF

MAFUBE SE “OORBODIGE” BATES IS OPGEVEIL

Updated: Jan 3


Die gemeenskap trek aan die kortste ent en meer vrae ontstaan!


Rioolprobleme in Mafube vererger daagliks en word nie opgelos nie, vullisverwydering bestaan amper glad nie, die vullisterreine word glad nie onderhou nie, paaie word nie onderhou en strepe nie geverf nie, en die lys gaan aan... Almal het gedink dit is “omdat die munisipaliteit seker nie die regte toerusting het nie”. Groot was die verrassing toe die veiling van Mafubube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) se bates aangekondig is. Al die nodige toerusting, party nog splinternuut en ander kort net ‘n bietjie aandag, het in hul stoor gestaan...


Mafube Plaaslike Munisipaliteit se “oortollige” bates het Donderdag, 9 Nov 2023 in Frankfort en Villiers onder die hamer gegaan. Die veiling was goed bygewoon. Baie belangstelling van elders is ‘n teken dat winskopies te wagte was. Dit is hartseer om te sien hoeveel bruikbare, herstelbare en selfs nuwe toerusting, nou nie meer vir munisipale dienslewering beskikbaar is nie.


Die lys van toerusting wat verkoop is, sluit onder andere in, skootrekenaars, ‘n padskraper, kompakteerder, voorkantlaaier, TLB, verskeie trekkers, motors, bakkies en selfs ‘n padlynverfmasjien. Daar was ook rioolskoonmaaktoestelle verkoop wat splinternuut voorgekom het. Met die huidige rioolkrisis in ons omgewing is dit absoluut onverstaanbaar waarom dit ook oorbodig verklaar en opgeveil was.


Die Mafube Mercedes Benz-ampsmotor het baie aandag getrek. Dit is duidelik in lopende toestand, maar het ‘n stampplek weg en benodig bietjie paneelklopwerk. Blykbaar was die versekering op die motor nie op datum nie, en kon MPM nie bekostig om dit reg te maak nie. Mens wonder of die herstel van die Mercedes Benz nie minder sou kos as om luukse ampsmotors vir politieke ampsdraes te huur nie... Dit is onbekend of die ongeluk waarin die motor betrokke was ooit aan die SAPD gerapporteer is. Was iemand ooit vir die skade wat opgedoen is verantwoordelik gehou en is disiplinêre stappe geneem? Of enige amptenaar verantwoordelik gehou vir die nalatigheid van onbetaalde versekering, is ook onbekend.

Mafube Besigheidsforum (MBF) het die vraag herhaaldelik gevra tydens die openbare vergaderings van Oktober 2022: “Is munisipale voertuie gedek is deur versekering?”. Nóg die Munisipale Bestuurder, nóg die Administrateur, kon voldoende bewyse daarvan lewer.

Wat duidelik na vore kom, is dat die gemeenskap weereens aan die kortste ent trek. Dit blyk dat daar geen toesig gehou word oor die aankoop, gebruik en instandhouding van munisipale bates nie.

• Waarom was daar nie eers ‘n tegniese assesering gedoen en kwotasies verkry om die waardevolle toerusting te herstel nie?

• Waarom is die MPM Raadsbesluit van 31 Oktober 2022 verontagsaam? Dit bepaal dat daar eers probeer moes word om die items teen gereserveerde pryse te verkoop, voordat dit opgeveil word.


Dit sal interessant wees om die finale opbrengs van die veiling te sien, en dit dan te vergelyk met die vervangingswaarde van die items wat verkoop is. MBF hoop dat die opbrengs van die veiling ten minste aangewend sal word vir dienslewering aan die gemeenskap.

MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.


5 views0 comments
bottom of page