MBF SE AMBASSADEURS VRYWILLIGERSPROGRAM
- MBF
- Jan 28, 2023
- 2 min read
As die nuutste matriekuitslae in ag geneem word, is dit duidelik dat die Mafube-gemeenskap kan spog met jeugdiges met baie potensiaal. Nie almal het die middele om verder te studeer by tersiêre instellings nie. MBF doen dus 'n beroep op besighede om ons plaaslike jeug die kans te gee om hul loopbane te begin en werkservaring as vrywilligers by hulle op te doen. Daar is ‘n paar gekwalifiseerde kandidate wat werk soek - 'n skaars kommoditeit in ons streek.
Alhoewel Mafube Busigheidsforum (MBF) nie indiensopleiding kan aanbied nie, en ook nie oor vakatures beskik nie, het ons as organisasie en ons lede 'n magdom kennis en ervaring op verskeie terreine om met graagte aan studente en werksoekers oor te dra. Ons doelwit is om jong mense te bemagtig deur hulle aan die kempleksiteite van besigheid in die werklike lewe bloot te stel. Dit kan die geleentheid bied vir entrepreneurskap of om hulle toe te rus vir indiensneming.
In terme van ons grondwet:
“MBF ondersteun maatskaplike ontwikkeling, wat gaan oor die verbetering van die welstand van elke individu in Mafube sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik. Die sukses van die samelewing is gekoppel aan die welstand van elke burger. Ons wil in mense belê. Dit vereis die verwydering van hindernisse sodat alle burgers met selfvertroue en waardigheid na hul drome kan reis.”
Met die bogenoemde in gedagte, het ons MBF se Ambassadeur-program vir persone tussen 18 en 34 jaar ingestel, wat ons organisasie aktief op 'n vrywillige basis sal bystaan, met spesifieke fokus op die aanspreek van die werkloosheidsituasie. MBF bied aan ons ambassadeurs die volgende voordele:
• regte werkservaring in 'n besigheidsomgewing; • betekenisvolle betrokkenheid by die gemeenskap; • mentorskap en leiding, om terugvoer met ontvanklikheid en professionaliteit te ontvang; • ondervinding en vaardighede op te doen in 'n besigheidsveld waarin hulle belangstel; • toegang tot IT en die internet; • geleentheid om professionele kenisse op te bou; • blootstelling aan regte probleme in die werksplek; • oriëntasie te ontvang t.o.v. ‘n maatskappy se missie en doelwitte, maatskappy reëls, regulasies en prosedures, • die opbouing en uitbreiding van hul CV's; en • om hul insette, energie, opinies en vaardighede toe te pas in ‘n besigheidsomgewing.
MBF INDIENSNEMINGPLATFORM
Volgens onafhanklike bronne word die werkloosheidsyfer onder Mafube-inwoners tot so hoog as 89% geskat. Dit is 'n kommerwekkende statistiek en vir ‘n ommeswaai, vereis dit 'n dringende gesamentlike poging van alle belanghebbendes. Dit is die mening van MBF dat daar nie op die regering staatgemaak kan word om enige betekenisvolle verlaging van die werkloosheidsyfer in ons streek te bewerkstellig nie – dit is eerder ‘n taak vir ons eie gemeenskap. Ons vrywillige ambassadeurs, wat eerstehandse ondervinding in hierdie verband het, sal die Indiensnemingsplatform onder toesig bedryf, met toegang tot menslikehulpbronspesialiste en relevante organisasies.
Belangstellendes word genooi om MBF te besoek by Kerkstraat 18A, Frankfort, gedurende werksure, van 08h30 tot 16h00, Maandag tot Donderdag en 08h00 tot 12h00 op Vrydae. Kontak Marina per WhatsApp 079 145 4295

댓글