Die gemeenskap van Tweeling, insluitend boere en sub-kontrakteurs wat voorheen in diens was om padwerke te doen, het die elemente aangedurf om Donderdagoggend 2 Desember buite die plaaslike gemeenskapsaal bymekaar te kom. Die Distrik Landbou-unie (DLU), Mafube Besigheidsforum (MBF) en die Mafube Taxivereniging was ook verteenwoordig. Dit het gevolg nadat 'n boodskap van die kantoor van die Premier ontvang is, dat die LUR vir Paaie, Polisie en Vervoer antwoorde sal verskaf soos vereis in verskeie memorandums wat aan die kantoor van die premier sowel as die minister van vervoer oorhandig is, oor die skokkende toestand van die R26 provinsiale roete tussen Tweeling en Frankfort.
Die vergadering wat om 10h00 sou begin, het uiteindelik 'n uur later begin, toe die LUR vergesel van die Premier opgedaag het. Die vertraging in hul aankoms was ironies genoeg weens die swak toestand van die pad. Na 'n gebed gelei deur dominee Willem Strauss, het mnr. Itumeleng Monaune, wat die sub-kontrakteurs verteenwoordig, die premier mev Sisi Ntombela en die LUR mnr. William Bulwane aan dies teenwoordig voorgestel.
Mnr Bulwane is nog net vir 'n maand in die pos van LUR vir Paaie, Polisie en Vervoer. Hy het die probleme wat ondervind is met die aangestelde kontrakteur, wat in die hooggeregshof beland het verduidelik. 'n Bevel is toegestaan, dat KET Civils, die hoofkontrakteur in die R177 miljoen projek, moet terugkeer na die terrein en die werk voltooi. Dit het glo gelei tot 'n uitgerekte regskwessie en vir ongeveer 12 maande geen vordering nie, tot nadeel van padgebruikers en die gemeenskap van Mafube. Die plaaslik gebaseerde sub-kontrakteurs is swaar geraak en het nie betaling vir hul dienste ontvang nie. Daar was geen opvolgmaatreëls in plek nie, en soos in die memorandums aangedui, is niks gedoen om padgebruikers te beskerm en skade aan voertuie te voorkom nie.
*Mnr. William Bulwane het die vorige LUR vir Paaie, Polisie en Vervoer, mnr. Sam Mashanini, wat deur die Premier afgedank is, vervang a.g.v. sy mislukking met betrekking tot verskeie padprojekte in die Vrystaat.
Mnr. Bulwane het voortgegaan om die vergadering in kennis te stel van die stappe wat deur sy departement geneem is en bevestig dat tenders aangevra is om die padwerke te voltooi. Hierdie proses maak voorsiening vir 'n tydperk van 14 dae, waarna 'n kontrakteur aangestel sal word. Die LUR het dit duidelik gemaak dat slegs graad 8- en 9-maatskappye oorweeg sal word – wat beteken groter nasionale padkonstruksiemaatskappye met 'n bewese kapasiteit om die werk te doen. Die aanstelling moet geprioritiseer word en sal dus na verwagting na 16 Desember vanjaar bekend gemaak word. Dus sal padwerke waarskynlik gedurende Januarie 2022 weer begin. Intussen sal alles moontlik gedoen word om veiligheid te verseker en die verbypaaie sal gereeld geskraap word. Die LUR het ook onderneem om na die kwessie van nie-betaling van die sub-kontrakteurs te kyk – samesprekings in dié verband is aan die gang.
MBF bly versigtig optimisties en vertrou dat die LUR wel opreg en eerlik is in wat hy gesê het. Die Premier is nou ook ten volle bewus van die situasie maar dit is nog onduidelik of die Minister van Vervoer behoorlik ingelig was.
Daar is deur die 5 gemeenskapsorganisasies besluit dat die LUR by sy beloftes gehou sal word en protesaksie voorlopig opgeskort sal word, alhoewel die situasie fyn dopgehou sal moet word. Verder kan meer drastiese protes en/of regstappe volg indien die ondernemings van die LUR versaak word.
Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org
コメント