top of page
  • Writer's pictureMBF

'n Nuwe bestuurslid aan boord by MBF

[Skakel na onderhoud onderaan artikel]


Mafube Besigheidsforum (MBF) is bevoorreg om te kan aankondig dat mnr. Izak van der Merwe by sy bestuurspan aangesluit het.



Izak is gebore in Zimbabwe (die destydse Rhodesië), en het groot geword langs die Limpopo - 'n ware Afrika-mens. Hy is 'n nederige, gelowige gesinsman, eggenoot, pa en trotse oupa. Van kindsbeen af het hy baie "boer-maak-'n-plan"-vaardighede ontwikkel wat die grondslag was vir sy merkwaardige loopbaan in tegnologie en innovasie.


Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi was Izak se Alma Mater. Tersiër het Izak ’n BSc in Bedryfsingenieurswese aan Tuks verwerf. Nagraads het hy by Massachusetts Institute of Technology (MIT) en UNISA in die velde van o.a. Ondernemingsbestuur, Bemarking, Finansies, Tegnologie en Innovasie kwalifikasies verwerf. Tydens sy loopbaan was Izak baie aktief en nou betrokke by instansies soos Vodacom, die WNNR, die Atoom-energieraad, Sasol en Eskom. Hy leef om te leer, en gebruik probleme wat die lewe na sy kant toe gooi as geleenthede vir kennis opbou, groei en ontwikkeling.


Izak is steeds betrokke by projekte en kontrakte in die volgende velde: Kommunikasie; Bio-energie; Hernubare energie; Gemeenskapsontwikkeling; Infrastruktuurontwikkelings; Fasiliteitsbestuur en Bankstelsels.


Izak se professionele loopbaan bestaan uit konsultasie en praktiese toepassing. Hy was verantwoordelik vir die vestiging van 'n konsultasieprogram by die WNNR met die doel om die mededingendheid van die Suid-Afrikaanse vervaardigingsbedryf te verbeter en het die posisie beklee van besturende direkteur by 'n aanleg wat goedere vir die konstruksiebedryf vervaardig het.


As deel van 'n span was hy instrumenteel in die stigting van nasionale vervaardigingsadviesrade regoor Suid-Afrika. Izak het kontrakte in Ghana en die Midde-Ooste gekry vir konsultasiedienste op die gebied van navorsing en ontwikkeling en vervaardiging. Hy het verskeie lande, soos Suid-Afrika, Zimbabwe en Mosambiek, op provinsiale en nasionale regeringsvlak adviseer rakende industrie- strategieë en het rigting gegee aan provinsiale regeringsdepartemente.


Izak het homself onlangs in Mafube gevestig en besluit om 'n pad saam met MBF te begin loop, omdat hy saamstem met die visie van die organisasie. Hy glo dat MBF die eerste voetstappe gee op 'n pad wat binnekort deur baie ander munisipaliteite gevolg sal word. Die opwindende nuwe ontwikkelings in die Mafube-streek is die perfekte groei-aarde vir Izak se innoverende karakter en persoonlikheid.


'n Volledige onderhoud met Izak is beskikbaar by: http://bit.ly/3YhZ8Z8


Besoek MBF, Kerkstraat 18A, Frankfort, Ma – Do: 08h30 - 16h00, Vr: 08h00 - 12h00. Tel: 079 145 4295; Epos: info@mafubebf.org; Webwerf: www.mafubebf.org

4 views0 comments

Comentários


bottom of page