top of page
  • Writer's pictureMBF

'n Storie wat besig is om geskryf te word



Hierdie week was besonders bedrywig in en om Mafube Besigheidsforum (MBF) se kantoor. Na baie jare se werk wat ingesit is om die toestand van dienslewering in Mafube te verbeter deur onderhandelinge met verskeie regeringsdepartemente, was die laaste uitweg ongelukkig om die howe te nader. Na vele vertagings meëgebring deur die regslui van staatsinstansies, het ons saak Donderdag, 27 Januarie 2022 in die hooggeregshof van Bloemfontein voorgekom. Advokate Frik Erasmus SC en Paul Eilers het namens MBF teen 17 ander respondente, wat President Cyril Ramaphosa ingesluit, opgetree.

Die strategie rakende die hofaksie was op 26 Januarie 2022 lewendig tydens 'n mediakonferensie van AfriForum, vanuit hul kantore in Pretoria uitgesaai. Dit was gelei deur Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum. Jacques Jansen van Vuuren, Skakelbeampte van MBF en Hans Pretorius, Portefeultje Bestuurder van Infrastruktuur by MBF, het die geleentheid gehad om die agtergrond en frustrasies op grondvlak in Mafube uit te lig. Morné Mostert, bestuurder van Plaaslike regeringsake by AfriForum, het die regsaspekte en strategie aangaande die saak uitgeengesit.

Na die hofsitting het hierdie storie van Frankfort en sy omstreke, behoorlik die media se aandag getrek. MBF is deur verskeie radiostasies genader vir onderhoude en kommentaar. Die storie het ontplof in die media en is ook deur groot name in die drukpers van Suid-Afrika gedra.

SABC TV was die afgelope Dinsdag in die dorp om 'n indiepte onderhoud met MBF en die inwoners van Frankfort en omstreke te voer. Jannie Schabort, voorsitter van MBF, het die uitdagings sover dit dienslewering aangaan, waarmee die inwoners van Frankfort en die groter Mafube daagliks te doen het, goed uitgelig en verduidelik. Hy het ook uitgebrei oor oplossings tot die probleme wat in die munisipaliteit heers. Inwoners het die kans gekry om hul ervarings met die kamera te deel. Die beeldmateriaal sal in een van SABC se naweek-aktueel programme gebeeldsend word.

Terwyl daar vir die regter se uitspraak gewag word, het die media deeglik kennis geneem van die stryd wat Frankfort (en Mafube)-inwoners daagliks voer, veral rondom die kwessie van swak munisipale dienslewerings en die onbeholpendheid vanaf die provinsiale owerhede.

Mag die kollig wat tans op die dorp en Mafube skyn, die duisternis rondom gebrek aan dienslewering help opklaar.

MBF bly daartoe verbind om die gemeenskap by te staan. Maak ons hand sterk in hierdie stryd en sluit by ons aan. Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A gedurende besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295 of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org

1 view0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page