top of page
  • Writer's pictureMBF

Nog arrestasies by Mafube?

Nkabi Andrew Hlubi,voormalige waarnemende munisipale bestuurder van die Mafube Plaaslike Munisipaliteit het Vrydag 10 September in die Bloemfonteinse Hooggeregshof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie. Hlubi wat voorheen die hoof finansiële beampte by Mafube was, het die pos van munisipale bestuurder gevul nadat die vorige munisipale bestuurder Isaac Radebe, deur die raad geskors en op spesiale verlof geplaas was. Radebe het tydens die 30-maande tydperk van sy skorsing meer as R3M as salaris vanaf Mafube ontvang. Daar was geen tugondersoek of enige stappe teen Radebe geneem nie.

Volgens die woordvoerder van die Valke, het Hlubi tenders toegeken aan 'n onderneming met die naam Pit Dog Trading wie, na elke betaling wat die munisipaliteit aan hulle gemaak het, 'n gedeelte van die geld in die Hlubi -bankrekening inbetaal het. Onreëlmatighede met die aanstel van konsultante en kontrakteurs is gereeld uitgewys in die verslae vanaf die Ouditeur-generaal en hieruit het dit onder andere aan die lig gekom, dat ‘n maatskappy aangestel was om die munisipaliteit van ‘n internet netwerk te verskaf teen R398 209.98, maar R23 068 861.05 is aan daardie instansie uitbetaal. Ten spyte van hierdie massiewe koste, word dit betwyfel of daar enige so netwerk bestaan.

In nog ‘n hoogs onreëlmatige geval is ‘n bod aan ‘n maatskappy toegeken vir die omheining van begraafplase teen R 62 837 838.47 in stede van ’n laer bod vir R7 963 000.00. Tot ophede is MBF nie bewus van enige omheining wat gedoen was by begraafplase nie.

In ‘n forensiese ondersoekverslag was daar ook uitgewys dat opdrag gegee was deur die munisipale bestuurder (Hlubi word nie spesifiek genoem nie), dat kontantgelde wat deur die publiek by die munisipaliteit inbetaal word, nie gebank moet word nie maar aan hom oorhandig word.MBF het vroeer vanjaar hieroor berig en aanbeveel dat inwoners dit vermy om kontantbetalings by die munisipaliteit te doen.

MBF nooi inwoners, besigheidseienaars en belastingbetalers uit, om ons kantore te besoek by Kerkstraat 18A Frankfort, gedurende ons besigheidsure, Maandae tot Donderdae vanaf 08h30 tot 16h00, Vrydae vanaf 08h00 tot 12h30. Kontak ook Marina per WhatsApp by 079 145 4295 of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org


0 views0 comments

Comments


bottom of page