top of page
  • Writer's pictureMBF

NOG FOKUS OP NASIONALE WATERKRISIS

Mafube Besigheidsforum (MBF) was Maandag 24 Junie teenwoordig by die Nasionale Waterberaad op Centurion, wat deur AfriForum georganiseer was. Die beraad was toegespreek deur kundiges wie deurgaans die huidige krisis Erken en oplossings bied wat binne ‘n nasionale strategie aangespreek moet word.


Mnr. Fred van Zyl, voormalige hoofdirekteur van Departement van Water en Sanitasie (DWS), het die agtergrond geskets deur te verwys na die inleiding tot die Nasionale Waterwet 36 van 1998. In die wet word erken dat water 'n skaars en oneweredig verspreide nasionale hulpbron is, wat alhoewel dit in baie verskillende vorme voorkom, alles deel is van 'n eenheid in die vorm van 'n interafhanklike siklus.


Dr. Sean Philips, die Direkteur-generaal van DWS het tydens sy spreekbeurt erken dat ‘n krisis bestaan en verder gesê dat krisistye geleenthede skep en dat ons dit moet aangryp – “Don’t waste a good crisis!”


Dr. Philips is van mening dat waterowerhede, soos munisipaliteite, inkomste uit waterverkope moet “ring fence”, sodat daardie fondse slegs aangewend kan word vir watervoorsiening en die onderhoud van waterinfrastruktuur. Nuwe wetgewing sal voorsiening daarvoor maak. Dr. Philips sê dat daar in die toekoms strenger opgetree sal word teenoor munisipale bestuurders en daar nie geskroom sal word om kriminele klagtes aanhangig te maak teenoor hulle wat nie hulle pligte nagekom het nie.


Nuwe waterwetgewing sal die betrokkendheid van gemeenskappe en deelname van die privaatsektor aanmoedig – ‘n geleentheid wat MBF ten voordeel van die Mafube gemeenskap sal aangryp.


Dr. Lloyd Fisher Jeffes van Kaapstad is ‘n siviele ingenieur met ‘n belang in die bestuur van waterbronne. Hy het verduidelik hoe die stad Kaapstad die “Day Zero” waterkrisis afgeweer het en glo dat die lesse wat daaruit geleer is, elders ook van toepassing kan wees. Dit is duidelik dat ‘n nasionale strategie nou aangeneem moet word om bewustheid landswyd te kweek, sodat die per-kapita verbruik van water verlaag kan word met sowat 80 liter per persoon, per dag. In Suid-Afrika staan dit tans op 255 liter per persoon per dag, die aanbevole internasionale verbruikvlak is egter 175 liter per person per dag.


Mafube was in die kollig op die beraad, maar ongelukkig vir die verkeerde redes... Meer as een spreker het verwys na die plaaslike situasie. Daar word landswyd na die Mafube-streek verwys as 'n voorbeeld wanneer gepraat word oor hoe dinge kan verkeerd kan gaan as 'n munisipaliteit weier om met sy plaaslike gemeenskap saam te werk.


AfriForum het ‘n omvattende inligtingsvideo by die beraad bekend gestel - sien: https://www.youtube.com/watch?v=NKKp3nHvBdE&t=166s


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h00 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.

11 views0 comments

Comments


bottom of page