Op Maandag, 13 Junie 2022, het Mafube Besigheidsforum (MBF) met mnr. Thomas Mkaza, Provinsiale EXCO-verteenwoordiger, wat die intervensiespan by Mafube lei, ontmoet, mnr. Luvuyo Ntoyi, Provinsiale EXCO-verteenwoordiger verantwoordelik vir Tegniese Dienste vir hierdie tydperk van administrasie en mnr. Josie Ralebenya, Munisipale Bestuurder van Mafube. Ander kundiges in Finansiële Bestuur sal later by die span aansluit. Die vergadering was 'n positiewe stap in die regte rigting. Mnr. Mkaza sien 'n blink toekoms vir Mafube, sou dinge in orde gebring word. Hy is deeglik bewus van die kwessies waarmee Mafube te doen het en is ook bewus daarvan dat harde werk ingesit sal moet word om stelsels en prosedures te stroomlyn. Hy is positief, en glo dat sy span professionele persone met hul kundigheid 'n verskil sal kan maak.
"Ons is nie towenaars nie, maar met 'n duidelike padkaart kan doelwitte bereik word."
MBF waardeer sy realistiese en metodiese benadering.
Mnr. Mkaza het ook die waarde van deursigtigheid beklemtoon, iets waarmee MBF saamstem, want deursigtigheid is die hoekstene van vertroue is; ongelukkig is dit iets wat baie lank by die munisipaliteit afwesig is. 'n Formele padkaart is in voorbereiding met die eerste fase van die intervensie, (Die Reddingsfase) wat binne 2-3 maande voltooi moet word nadat dit goedgekeur en geïmplementeer is.
Mnr. Ntoyi is 'n gekwalifiseerde ingenieur wat aangestel is om te om te sien na die tegniese en infrastruktuurkwessies by die munisipaliteit. Mnr. Mkaza beoog 'n reeks vergaderings met MBF en die verskillende belanghebbendes om voort te bou op die vordering wat gemaak is.
Foto: (v.l.n.r.): Van links na regs: Mnr. Luvuyo Ntoyi, Provinsiale EXCO-verteenwoordiger verantwoordelik vir Tegniese Dienste; Jannie Schabort, voorsitter MBF; Mnr. Thomas Mkaza, Provinsiale EXCO-verteenwoordiger, wat die intervensiespan by Mafube lei en Mmalerato Motsoeneng, Ondervoorsitter MBF.
Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org. Besoek ons webwerf by www.mafubebf.org.
Comments