Ons in die Mafube streek is bevoorreg om in ‘n waterryke area te woon. Die besoedelling van ons waterbronne bly steeds ‘n ernstige probleem wat dringend aangespreek moet word. Een van die belangrikste funksies van plaaslike regering is omgewingsbestuur wat, wanneer dit behoorlik uitgevoer word, kan bydra tot ekonomiese en maatskaplike herlewing. In die Mafube-streek word dit totaal verwaarloos tot die punt waar dit nie bestaan nie, soos aangedui in die Groen Druppel-verslag van 2022 waar Mafube Plaaslike Munisipaliteit die swakste in die hele land gevaar het. Hierdie het 'n aansienlike negatiewe uitwerking op, nie net ons omgewing nie, maar nog belangriker, die gesondheid en welstand van ons gemeenskap asook die ekonomie van ons streek.
Water is ‘n skaars komoditeit in Suid-Afrika, en ons land is aangewys as die 38ste droogste land ter wêreld; met 'n vinnig groeiende bevolking.
Suid-Afrika se reënval is onvoorspelbaar en algemene droogtetydperke beperk die waterbronne nog verder. Binnekort kan die aanvraag na water die beskikbare hoeveelheid oorskry. Dit beteken dat ons water meer effektief moet gebruik en deel. Die gesondheid van die riviere in ons land word bedreig deur die oormatige gebruik van die water en die rivieroewers. As ons die rivier op een plek besoedel, beïnvloed ons die toestand van die rivier vir 'n lang afstand stroomaf. Wanneer 'n rivier gesond is, het dit die vermoë om homself te reinig, maar aanhoudende besoedeling werk die aksie teen.
Mafube Besigheidsforum (MBF) wil graag burgers aanmoeding om te help om ons riviere skoon te kry en skoon te hou - om ons riviere weer gesond te kry. Verantwoordelike burgerskap. Die verhouding tussen gemeenskappe en gesonde riviere kan nie genoeg beklemtoon word nie, aangesien dit gemeenskapslede is wat vir ons riviere moet sorg om te verseker dat dit nie met riool en rommel besoedel word nie.
Druk op owerhede moet volgehou word om hulle verpligtinge na te kom. MBF speel ‘n leidende rol in ons gebied om waterkwaliteit in ons riviere te moniteer en bekleë tans die voorsitterskap van die Vaaldam Reservoir Opvangsgebiedforum (VDRCF), ‘n instansie wat in terme van die Waterwet saamgestel is en optreë as offisiële verteenwoordigende liggaam vir ons streek.
Fotos: 1) Onlangse watertoetse is gedoen op rivierwater in die omgewing van Frankfort. Die swart kleur van die water het oor 72 uur ontwikkel nadat ‘n “aqua screen” toets daarop gedoen is – verkleuring toon aanwesigheid van fekale koliforme, wat afkomstig is van riool. Die kolletjies op die ronde toets dui die aanwesigheid van spesifieke bakterie aan. 2) Drifsels op die water oppervlak in die rivier vroeër vanjaar.
Alle vergaderings van VDRCF is oop vir publieke deelname. Indien u wil deelneem kontak MBF gerus. Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.
Comentários