top of page
  • Writer's pictureMBF

ONWETTIGE AKSIES DEUR MAFUBE MUNISIPALITEIT

Prosedures en die uitvoering daarvan is van kardinale belang. Die gebrek daaraan veroorsaak chaos en ongelukkigheid.

Mafube Besigheidsforum (MBF) het verneem van die bewering deur Mnr. Abram Mgcina, die waarnemende hoof finansiële beampte van Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM), dat MBF die dienste van ‘n skuldinvorderaar wat deur MPM aangestel was, “sonder enige geldige rede” gestop het. Hierdie is te midde van ander misleidende inligting wat op 9 Mei op Frankfort Herald se Facebook-blad geplaas is.

MBF was wel in kontak met Phakamani Debt Collection Services en Peyper prokureurs, en dit blyk dat beide eerder vrywillig ontrek het, toe die wettigheid van hul aanstellings bevraagteken was. MBF sal altyd optree in belang van die Mafube gemeenskap en sal geen onwettige aanstellings by die munisipaliteit duld wat tot nadeel van inwoners, besighede en belastingbetalers mag wees nie.

Valse beloftes?

Verder blyk dit nou duidelik dat die munisipaliteit onwettig optreë in gevalle waar inwoners en besighede dispute verklaar het. Bykans 700 wetlike dispute is al deur ongelukkige inwoners en besigheidseienaars by MPM ingedien maar in ‘n skrywe ontvang vanaf Peyper prokureurs, ontken Mgcina en die waarnemende munisipale bestuurder Mnr. Mothusi Lepheana enige kennis daarvan. MBF vind dit belaglik dat Mgcina nou almal op sosiale media uitnooi om hom te kom sien, in stede daarvan om aandag te gee aan al die opgehope dispute of te antwoord op direkte navrae vanuit die gemeenskap.

Dreigemente en intimidasie

Dreigemente en intimidasie taktieke word nou ingespan deur mnr. Mgcina met die ondersteuning van sekere raadslede, om verbruikers te dwing om hul skuld aan MPM te betaal. Daar word selfs sover gegaan om watertoevoer na besighede af te sny sonder om agting te gee aan dispute wat deur eienaars verklaar is. Dit is duidelik onwettig in terme van artikel 102 van die Munisipale Sistemewet wat enige invorderingsaksies verbied totdat dispute opgelos.

40%-afslag nie noodwendig korrekte prosedure

Tans stuur MPM briewe uit onder die vaandel van ‘n opgeklaarde dispuut, maar geen gesprek is gevoer met die eienaar van die rekening nie, en ‘n standaard 40% afskrywing is basies gedoen. Inwoners mag steeds hierdie verminderde bedrag onder die vergrootglas plaas. ‘n Twee-rigting gesprek is afdwingbaar. Dispute is afgehandel wanneer beide partye tot vergelyk gekom het.

MBF nooi inwoners, besigheidseienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.

1 view0 comments
bottom of page