Die Frankfort Plan
1. Red die Platteland – ‘n Inleiding
Red die Platteland (RDP) is ‘n nuwe manier om te kyk na ‘n ou probleem – plattelandse dorpe wat verarm en verval, meestal as gevolg van ‘n gebrek aan ekonomiese groei en geleenthede. Dit is ‘n omvattende program om in landelike streke, gemeenskappe te mobiliseer en deelname te bevorder, om daardeur ieder en elkeen betrokke te kry – oud en jonk.
Die platteland is bekend vir sy rykdom aan kultuur en geseënd met ‘n lewendige energie. Die plan is om dit wat ons reeds het, tesame met wat ons in die vooruisig stel, ten volle te benut en te gebruik. Die visie is om verdere geleenthede te skep om ons dorpe te laat floreer deur ekonomiese groei op ‘n volhoubare wyse te bewerkstellig.
RDP vorm ‘n oorkoepelende liggaam om onder andere, landbouverenigings, burgerlike bewegings, kerkgroepe skole, klubs en sakekamers met ‘n gemeenskaplike belang saam te bring. Die ideaal is om deur daadwerklike aksies, alles in die stryd te werp om op die platteland positiewe verandering teweeg te bring. ‘n Tendens van ‘groener weivelde in groter dorpe’ kan so stopgesit word. Behou en verbeter eerder wat reeds in die platteland is. Ons glo daaraan dat gemeenskappe eienaarskap van hul dorpe moet neem, en tesame met die uitleef van hul regte, verantwoordelikheid vir hul eie omgewing moet aanvaar.
RDP erken die uitdagings wat bestaan op die platteland en glo dat die “bloudruk” wat reeds geskep is uitvoerbaar is binne ander gemeenskappe regoor Suid Afrika, om die volgende te oorkom:
Eerstens moet die wyse waarop plaaslike regering werk, verander en inkoop verkry word om 'n meer besigheidsvriendelike omgewing te skep.
‘n Onaanvaarbare hoë werkloosheidsyfer. Om hierdie rede is die skepping van permanente werksgeleenthede en geleenthede vir entrepreneurs in die platteland uiters belangrik. Daar is te veel jongmense wat gretig en opleibaar is, maar hulle het amper geen vooruitsigte om in die platteland selfonderhoudende werk te kry nie.
In die breë, het munisipaliteite in die platteland 'n direkte en wesenlike nadelige uitwerking op veral die waterbronne, as gevolg van ‘n onvermoë om behoorlik te funksioneer en infrastruktuur in stand te hou. Die sosio-ekonomiese omstandighede van die meerderheid inwoners dra verder by tot die verwaardelosing van die omgewing – grootliks as gevolg van onkunde en apatie.
RDP het in samewerking met die gemeenskap die kapasiteit en vermoë opgebou om by te dra tot positiewe verandering in terme van bostaande, deur bronne tot ons beskikking, en welwillendheid van ons plaaslike gemeenskap in te span. Ons plaaslike gemeenskap is landswyd bekend daarvoor dat ons innovering na die platteland bring soos bv. die ontwikkeling van hernubare energiebronne en unieke projekte waardeur die impak van beurtkrag gemitigeer word.
Om op te som: Die Bloudruk soos hierbo kortliks omskryf, is iets waarvoor RDP perfek geposisioneer is. Ons standaarde is eerstewêrelds – niks minder is goed genoeg nie. Volhoubaarheid is die sleutel.
RDP beoog om sy kennis en ervaring met gemeenskappe wat soortgelyk geraak word te deel, om hulle te bemagtig om ook hul eie unieke oplossings te vind.
2. Ingryping deur die gemeenskap
Inwoners, belastingbetalers en besigheidseienaars van Frankfort (insluitend Namahadi) het baie om oor te kla maar natuurlik ook veel om oor dankbaar en trots te wees. Alhoewel meeste van ons dit as vanselfsprekend aanvaar, bly Frankfort ‘n pragtige dorp met soveel potensiaal en geleenthede vir almal. Die agteruitgang soos op talle plattelandse dorpe, kan gestuit word en hier het Frankfort ‘n duidelike voordeel met:
1. Ligging
2. Natuurlike hulpbronne
3. Omgewing
4. Innoverende oplossings
5. Gewillige mense
3. Stuit die verval – Die “Doen Niks” scenario
Die welbekende “Gebreekte Venster Teorie” (eng. Broken Window Theory) is hier tersprake. Dit begin met ‘n gebreekte venster hier en daar en die beginsel van die teorie is dat as dit nie reggemaak word nie, sal daar mettertyd meer en meer vensters (meestal doelbewus) gebreek word. Dit is ‘n metafories teorie en het betrekking tot kleiner dingetjies wat in baie gevalle as minder belangrik geag word – soos vullis wat nie opgetel word nie, publieke areas wat nie onderhou word nie, verkeerstekens en straatname wat verweer ens. Misdaad en wanorde is geneig om te floreer in omgewings waar klein probleme nie aangespreek word nie. Namate die omgewing in verwaarlosing verval, interpreteer dié wat verantwoordelik is vir misdaad en wanorde die gebrek aan sorg vir die omgewing as “niemand gee om nie” en as toestemming om dit sonder reperkussies te gebruik en te misbruik.
Stedelike verval en die gepaardgaande wanorde het ook die verdere nagevolg dat eiendomswaardes negatief geraak word en verdere belegging afgeskrik word. Die teenoorgestelde is natuurlik van toepassing – maak die klein goedjies reg, ‘n klein bietjie verf, sorg en skoonhou en kyk net hoe die aanvraag en eiendomswaarde toeneem.
In kort kom dit daarop neer dat as die klein goedjies eers reggemaak is en instandgehou word, volg die groot verbeteringe met tyd outomaties. Die teorie veronderstel ook dat netjiese areas ‘n aanduiding gee dat die inwoners van die gebied omgee en bedag is op wat rondom hulle aangaan en dit lei weer tot verlaagde misdaadvlakke en verhoogde eiendomswaardes. ‘n Omgewing waarin ‘n gemeenskap kan floreer. Ook om ‘n voorbeeld te stel aan ander gemeenskappe en hulle te motiveer tot almal in ons pragtige land se voordeel.
4. Stuit die verval – Die “Frankfort Doen Dit” Plan
RDP glo daaraan dat elkeen binne die gemeenskap ‘n rol het om te speel en ‘n bydra kan maak.
Hier is ‘n paar idees vir inwoners:
Hou die stukkie straat voor jou huis en/of besigheid skoon.
Wees trots op jou sypaadjie!
Help met organisasie soos AfriForum se maandelikse skropsessies (eenmalige intensiewe skoonmaakaksies in ‘n geïdentifiseerde probleemarea).
As jy iets vervalle in jou omgewing sien (byvoorbeeld ‘n bushalte, verkeerslig se paal, vuil sypaadjie ens.), en dis binne jou vermoë, maak dit asb skoon en herstel dit soos dit voorheen was.
Wees positief en maak ‘n verskil.
Motiveer ander rondom jou en wees vir hulle ‘n voorbeeld.
Moenie net kla nie, maar wees deel van die oplossing, gaan oor tot aksie en maak ‘n verskil.
Neem “eienaarskap” van jou dorp en die geriewe wat dit bied.
Laat RDP weet van enige ander inisiatiewe en voorstelle.
En ‘n paar idees vir plaaslike besighede, kerkgroepe en burgerlike organisasies:
Identifiseer ‘n area soos ‘n park, sirkel, gedeelte langs die rivier as ‘n projek te verfraai en te onderhou.
Gebruik die geleentheid om jou besigheid te bemark d.m.v. media en advertensiebord.
Daag ander besighede uit om op jou pogings te verbeter.
Dink daaraan om iemand permanent in diens te neem om ‘n spesifieke area te onderhou
Kostes kan afgeskryf word teenoor belasting.
5. Rapporteer foute en probleme
Mafube Besigheidsforum (MBF) het 'n skakel na ‘n “app” versprei waar probleme met munisipale dienste (riool, water slaggate ens.) aangemeld kan word. Onlangs is dit uitgebrei sodat elektrisiteitsprobleme ook nou aangemeld kan word.
Wanneer probleme gerapporteer word, kry die gebruiker 'n verwysingsnommer. Hierdie nommer is baie belangrik en dien as bewys daarvan dat dit aangemeld is. Bewaar die verwysingsnommer asseblief.
- Elektrisiteitsfoute word deur Rural hanteer en herstel.
- Munisipale foute word gereeld aan Mafube Plaaslike Munisipaliteit deurgegee.
MBF kan vir geen van die instansies verantwoordelikheid neem om hul plig uit te voer nie, maar die aantekenmeganisme kan help om dit te moniteer en rekord van te hou.
6. Die “Hoe, Waar en Wanneer”
Besighede en individue wie wil deelneem aan die projek het ‘n keuse van betrokkenheid en omvang daarvan. Om deel te neem moet dit binne die vermoë, kapasiteit en bekostigbaarheid van elkeen wees. Volhoubaarheid is die sleutel. Ter wille daarvan vra RDP dat u eienaarskap van die projek neem vir ten minste 2 jaar maar indien dit nodig is kan dit na ‘n ander persoon of instansie oorgedra word. Die stappe om te neem is soos volg:
Besluit oor hoe u betrokke wil wees (binne u vermoëns).
Neem ‘n gedeelte van die dorp aan, soos ‘n park, straat, sypaadjie of eiland aan.
Neem foto’s en gee ‘n beskrywing van die projek wat u aanneem. (Dis altyd pret om die voor en na resultate te vergelyk.)
Klik op die QR Kode en registreer u projek deur die skakel te volg
Reserveer die projek waarin u belangstel.
Indien u hulp nodig het of verkies om dit in persoon te doen, besoek die MBF kantore waar u bygestaan sal word.
Rig ‘n advertensiebord op om u besigheid te bemark. RDP sal riglyne verskaf en sal reël vir die opmaak en toestemming om die advertensiebord op te rig.
Ander items om aan te dink: Asdromme, parkbanke ens. Identifikasieplaatjies vir bome in parke en publieke ruimtes.
Volg gereeld op en hou u projek in stand. Onthou dat dit naam en beeld van u besigheid dra.
Netwerk met ander besighede en inwoners.
Onthou die projek gaan omtrent gemeenskapsbetrokkenheid – nie ‘n borgskap nie. Finansiële bydraes is geensins ‘n vereiste nie maar is altyd welkom om ander in staat te stel om projekte aan te neem.
7. Voordele
Die voordele van hierdie gemeenskapsprojek is vanselfspekend maar die belangrikste eienskap is betrokkenheid van die gemeenskap wie deur “eienaarskap” die verantwoordelikheid neem vir hul dorp en hul omgewing Die vrugte wat dit sal afwerp is eerstens ‘n dorp sal wees waarop ons almal trots kan wees. Soos hierbo reeds genoem sal ‘n skoon georganiseerde dorp wat korrek funksioneer eerder beleggings aanmoedig as om dit af te skrik. ‘n Aantreklike dorp en omgewing sal mettertyd meer besoekers lok en fasiliteite en dienste verbeter. Eiendomswaardes sal toeneem a.g.v. ‘n verhoogde aanvraag wat dan tot voordeel van plaaslike regering die belastingsbasis sal verbreed. Die plaaslike munisipaliteit sal hierdie voordeel moet erken en ook hul deel doen deur dienslewering te verbeter. ‘n Wen-wen situasie!
8. Verdere Aksies
Die projek sal afskop in Frankfort om praktiese redes en sal later uitbrei na ander dorpe en woongebiede binne die munisipale gebied – niemand sal uitgesluit word nie. skakel in by CoGTA se Small Town Regeneration Strategy (STR) en ander soortgelyke inisiatiewe.
Die media (plaaslik en nasionaal) sal gereeld ingelig word rondom die projek en die suksesse behaal.
‘n RDP paneel sal periodiek projekte besoek om te beoordeel en pryse sal uitgeloof word waar daar moeite gedoen word om die omgewing te verfraai en op te knap.
Korporatiewe organisasie sal betrek word om by te dra deur bv. toerusting beskikbaar te stel.
Comments