top of page
Writer's pictureMBF

RIOOLBESOEDELING DEUR MAFUBE FINAAL GESTUIT?

Updated: Jan 12

Mafube Besigheidsforum (MBF) het in die Frankfort Herald van 18 Februarie berig dat die Hooggeregshof in Bloemfontein op 29 Julie 2021, Mafube Plaaslike Munisipaliteit (Mafube) beveel om stappe te neem wat deel uitmaak van die standaard operasionele prosedures by rioolaanlegte – sien lys aan einde van artikel.



Mafube het die bevel nie ten volle nagekom nie en wou ten spyte van verdoemende bewyse, daarteen appeleer. Mafube se aansoek om verlof tot appèl is op 4 Februarie 2022 aangehoor, maar regter Opperman het dit op 28 Februarie van die hand gewys.


Die gevolg:


  1. ‘n Kostebevel is teen die munisipaliteit, die munisipale bestuurder, die administrateur en die minister van Behuising, Water en Sanitasie aanhangig gemaak.

  2. Mnr. Josie Ralebenya, die Munisipale Bestuurder, kan in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word, omdat hy nie nodige magtiging gehad het om te appeleer nie.

  3. Die weg is nou gebaan vir meer drastiese optrede teen die munisipale bestuurder, indien die oorspronlike bevel nie nagekom word nie.

  4. Minagting van so ‘n Hooggeregshofbevel kan lei tot ‘n kriminele vervolging en selfs 90 dae tronkstraf.

  5. Die mate waarin Mnr Moses Moremi aanspreeklik gehou kan word is steeds duister, omdat sy status as die duidelik is nie.


Ongelukkig lyk dit asof die belastingbetaler weer sal moet opdok. Dit is geld wat gebruik kon word vir herstelwerk of opgradering, en sou waarskynlik genoeg wees om die rioolstorting probleem permanent op te los.


Bevele deur die hooggeregshof:

  1. Effektiewe bestuur en instandhouding by die rioolaanleg te doen;

  2. alle nodige herstelwerk uit te voer;

  3. inspeksies op 'n gereelde basis te doen;

  4. onmiddellik optree indien 'n krisis ontstaan;

  5. stappe te neem om besoedeling en rioolstortings te voorkom;

  6. monsters van uitvloeisel op aanvraag beskikbaar te stel;

  7. elke 2 weke 'n vorderingsverslag in te dien; en

  8. gereelde betalings aan Eskom te doen, om te verseker dat die rioolaanleg voltyds in werking is.

MBF doen 'n beroep op die Mafube-gemeenskap om nie rioolstortings en stukkende infrastruktuur te ignoreer nie – dit moet aangemeld word.


Besoek ons kantore by Kerkstraat 18A gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org



2 views0 comments

コメント


bottom of page