top of page
  • Writer's pictureMBF

SAKELIGA HOU BERAAD OOR STAATSVERVAL

Mafube Besigheidforum (MBF) is onlangs uitgenooi na Sakeliga se beraad, gehou op 26 en 27 Okober by die Chameleon Bush Lodge, Noord van Pretoria. Daar was meer as 60 sake-organisasies en burgerlike instansies wat die geleentheid bygewoon het.


Jannie Schabort, Voorsitter van MBF en Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Vir MBF was dit ‘n besondere voorreg om te kon deelneem aan die gesprek en om ons ondervindinge oor die laaste vier jaar te kon deel met ander gemeenskappe wat ook gebuk gaan onder staatsverval. Jannie Schabort, voorsitter van MBF het hieroor uitgebrei tydens ‘n spreekbeurt wat gefokus was op oplossings vir die talle probleme wat deur sakegemeenskappe landwyd ervaar word, waar munisipaliteite wanfunksioneel is en nie in staat is om dienste te lewer nie.


Sakeliga se uitvoerende hoof Piet le Roux, het die doel van die beraad beskryf as ‘n samekoms om kennis en kundigheid te deel, om daardeur sake-organisasies te versterk, ‘n skaalbare model te vestig en ‘n netwerk vir ondersteuning te skep, om aan die einde van die dag ‘n gunstige sake-omgewing te bewerkstellig. Piet het verwys na die onstaan van die Hansa Liga, ‘n organisasie wat deur Noord-Europese handelaarsgemeenskappe gestig is om hul wedersydse handelsbelange te beskerm – in die afwesigheid van regeringsinvloede. Die liga het kommersiële aktiwiteit in Noord-Europa van die 13de tot die 15de eeu oorheers, en het ‘n groot bydrae gemaak in die vestiging van die westerse beskawing.


Onder die spesialis-sprekers was professor Koos Malan, die welbekende konstitusionele regskenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria en genoot van Sakeliga. Hy is van mening dat die nasionale grondwet ‘n lewendige, veranderbare dokument is – dat die grondwet nie “die absolute finale sê” het nie. Prof. Koos is van mening dat regslui minder “boekgebonde” moet optree en eerder moet kyk na dit waarna die grondwet strewe – die groter doel wat die wet moet bereik en die impak daarvan op ons gemeenskappe. Die agteruitgang wat ons belewe is die produk van skadelike regeringsbeleid. Laasgenoemde skep die geleentheid vir goed-georganiseerde burgerlike instansies om die leemtes te vul. Sakeliga het ‘n aantal opwindende inisiatiewe onlangs bekendgestel wat ook ten voordeel van ons plaaslike besigheidsgemeenskap ingespan kan word. In terme van MBF se grondwet sal ons ten alle tye optree in belang van ons lede en sien samewerking binne die Sakeliga se ondersteuningsnetwerk as een van die belangrikste meganismes om ons hoofdoelwit te bereik – naamlik om ‘n gunstige sake-omgewing te skep.


Sien ook SBI se navorsingsdokument oor die ware koste van wanfunksionele munisipaliteite m.b.t. die plaaslike ekonomie, by: https://t.ly/AXv7p.


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.


1 view0 comments
bottom of page