top of page
  • Writer's pictureMBF

SPREEK WERKLIKE KWESSIES AAN

Mafube Besigheidsforum (MBF) het gesien hoe baie geld in Mafube vermors word, met die ondoeltreffende herstel van ou infrastruktuur waarvan baie se beste dae al lankal verby is. Dit is tyd om infrastruktuur stelselmatig te vervang en op te gradeer, en voorsiening te maak vir beplande instandhouding, eerder as om voortdurend genoodsaak te word om laswerk te doen. Oppervlakkige mooi maak en reaktiewe herstelwerk is‘n verkwisting van tyd en hulpbronne en boonoop onvolhoubaar. Die toestand van ons paaie, riool- en waterretikulasiestelsels het 'n direkte impak op dienslewering, die ekonomie en die gemoed van die samelewing.


MBF het verkies om nie diemaklike paadjie te stap nie en werk hard om Mafube weer in "werkende" toestand te kry. Nie deur “window dressing” nie, maar om die oorsprong van die probleem aan te spreek... administrasie. Administrasie is die bestuur en toepassing van prosesse in 'n kantoor, besigheid of organisasie. Dit behels die doeltreffende en effektiewe organisasie van mense, inligting en ander hulpbronne om organisatoriese doelwitte te bereik. Dit is geen verrassing dat baie van die administratiewe take wat aandag moes geniet het, verwaarloos was en steeds is nie. Die administrasieproses kan herstel word, maar sal noukeurige beplanning en gespesialiseerde kundigheid verg. Nadat 'n hooggeregshofbevel in April 2022 suksesvol verkry is, het MBF met die munisipaliteit en die provinsiale intervensiespan deur vergaderings begin skakel om ooreenkomste wat reeds in plek is deur te werk, te verfyn en te implementeer. Dit is 'n lang en senu-tergende pad van vergadering op vergadering, soms tot laat in die nag, om te verseker dat alle tegniese aspekte aangespreek word. Terwyl hierdie besprekings aan die gang is, kan nie veel op grondvlak gedoen word nie. MBF is egter baie positief oor die vordering wat tot dusver gemaak is, en is baie opgewonde oor die pad vorentoe. Meer inligting rakende die plan-van-aksies sal mettertyd beskikbaar gestel word. MBF se visie is 'n omgewing met volhoubare ekonomiese en sosiale vooruitgang. 'n Beter Mafube vir almal. Sedert 2019 het ons 'n lang pad gestap, en is steeds verbind tot ons gemeenskap en streek. MBF bedank almal vir hul geduld en volgehoue ondersteuning. Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers is welkom om ons kantore by Kerkstraat 18A te besoek gedurende ons besigheidsure, op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae van 08h30 tot 12h30, of kontak Marina op WhatsApp by 079 145 4295. Of stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org #mbf #mafubebusinessforum #mafubebesigheidsforum #mafube #Vrystaat #freestate #Municipalities #municipality

0 views0 comments

Comments


bottom of page