In sy onlangse stortingsterrein ouditverslag, het Afriforum bevind dat nie een van die 25 munisipale stortingsterreine in die Vrystaat wat besoek was vir die doel van die oudit, voldoen aan minimum standaarde nie. In die geval van Frankfort, wat in 2015 nog ‘n voldoeningspersentasie van 48% gekry het, het dit nou agteruit gegaan tot slegs 4%. Net soos die ander stortingsterreine van Mafube, word Frankfort s’n sonder ’n geldige lisensie bedryf.
Die stortingsterrein by Villiers wat nie deel gevorm het van die oudit nie, is ‘n besondere geval. Hier is daar in 2016 ‘n kontrak van R15M toegeken aan ‘n maatskappy van KwaZulu-Natal om die bestaande terrein te rehabiliteer en ‘n nuwe “state-of-the-art” fasiliteit te ontwikkel. Na die voltooing daarvan is dit nooit in werking gestel nie en onder duistere omstandighede was die hekke gesluit. Mafube munisipaliteit het doodeenvoudig voortgegaan om rommel in die ou steengroef en weidingsplaas langsaan te stort. Intussen het vandale die infrastruktuur gestroop en die nuut-geboude kantoor afgebreuk.
Vandag is daar steeds geen toegang tot die stortingsterrein by Villiers nie omdat daar geen beheer bestaan nie en die ingang met rommel versper is – gevolglik word rommel nou in, of langs die pad gestort.
Dit is kommerwekkend dat die munisipaliteit van Mafube in sy konsepbegroting vir 2020/21 steeds geen voorsiening daarvoor maak om enige van die stortingsterreine binne sy verantwoordeliksgebied beheerbaar te maak nie,of om ten minste te voldoen aan minimum standaarde en lisensievoorwaardes nie. Daarenteen word daar begroot vir ’n inkomste van meer as R16M vir rommelverwydering.
Comments