top of page
  • Writer's pictureMBF

WAAR IS JOU SOSIALE LISENSIE?

'n Sosiale lisensie (SL) om te handel, verwys na die vlak van aanvaarding of goedkeuring deur plaaslike gemeenskappe en belanghebbendes van organisasies en hul bedrywighede. Die konsep van ‘n sosiale lisensie is nouverwant aan die konsep van volhoubaarheid.



Munisipaliteite benodig dus nie net regulatoriese toestemming nie, maar ook "sosiale toestemming" om hul besigheid te bedryf, en die verantwoordelikheid om hul mandaat ten volle na te kom. ‘n SL word mettertyd geskep en in stand gehou, aangesien 'n entiteit vertroue bou met die gemeenskap waarin dit funksioneer en met ander belanghebbendes. Om sosiale lisensies te beskerm en te bou, word maatskappye en openbare entiteite aangemoedig om eers die regte ding te doen en dan gesien te word wat die regte ding doen.


Vir 'n regering, ongeag of dit op sentrale, provinsiale of plaaslike vlak is, beteken aanspreeklikheid in wese dat dit verantwoordelikheid moet aanvaar en dat dit verantwoordelik is om aan die samelewing verantwoording te doen vir wat gedoen is of nie. Openbare aanspreeklikheid berus beide op verantwoording gee, en tot verantwoording gehou word. Alle staatsdepartemente moet doeltreffend wees omdat hulle waarde vir belastingbetalers se geld moet verseker. Doeltreffendheid sluit die kwalitatiewe en waardebelaaide verwagtinge van die samelewing in.


Aanspreeklikheid is die fundamentele voorvereiste om die misbruik van mag te voorkom en om te verseker dat mag gebruik word vir die bereiking van doeltreffendheid, reaksie en deursigtigheid.


Oop, deursigtige en verantwoordbare bestuur is 'n noodsaaklike voorvereiste vir gemeenskapsgerigte openbare dienslewering, want daarsonder sal onetiese gedrag wat weg gesteek word die gevolg wees. Verantwoordbaarheid en deursigtigheid is twee besonder belangrike vereistes van gehalte openbare dienslewering:


• Verantwoordbaarheid: Die verpligting om bevredigende verduideliking van 'n mens se optrede en gedrag te gee, tesame met regsgevolge. • Deursigtigheid: Amptelike optrede om eerlik en oop te wees om openbare aanspreeklikheid te verbeter.

Verantwoordbaarheid en deursigtigheid is dus twee kante van dieselfde munt.

Aangesien gemeenskapsruimtes deur veelvoudige belanghebbendes gevorm word, is die bevordering van goeie bestuur en die versterking van openbare deelname van kritieke belang. Die regering moet aanspreeklik wees daarteenoor, en die impak daarvan op alle bevolkingsgroepe verstaan. Daarom moet op plaaslike regeringsvlak prioriteit gegee word aan intervensies wat daarop gemik is om deursigtigheid en demokratiese besluitneming te bevorder. Innoverende tegnologie en ander meganismes moet gebruik word om vertroue te bou en deursigtigheid en aanspreeklikheid te verhoog.


Enige regeringsvlak, hetsy nasionaal, provinsiaal of plaaslik, kan nie daarop aanspraak maak om die mense binne sy jurisdiksiegebied te verteenwoordig of dienslewering te verskaf soos dit ingevolge die Grondwet verplig is nie, tensy dit oor 'n Sosiale Lisensie beskik.

Besoek ons MBF-kantoor by Kerkstraat 18A, Frankfort, stuur 'n e-pos na info@mafubebf.org of 'n WhatsApp na 079 145 4295. Volg MBF op Facebook en besoek ons webwerf www.mafubebf.org

1 view0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page