top of page
  • Writer's pictureMBF

WAT HET VAN DIE BURGEMEESTER SE MERC GEWORD?

Inwoners sal die talle advertensieborde opmerk in Frankfort wat die veiling van munisipale bates op 9 November adverteer. Die items wat op die veiling van die hand gesit word kan besigtig word op die afslaer se webblad (http://surl.li/mspoi). Dit is skokkend om te sien dat Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) nou bates wil verkoop wat baie duidelik nog herstelbaar is en gebruik kon word om dienste te lewer. ‘n Voorbeeld hiervan is die 2 Foton trekkers wat nog redelik nuut is (sowat 6 jaar gelede aangekoop) en nou van die hand gesit word. Dalk het MPM nie meer die vermoë om instandhouding en herstelwerk te doen nie. Dit blyk asof munisipale amptenare eerder nuut aankoop, as herstel. Nuwe aankope geskied deur tenders, en soos almal weet maak tenders deure oop vir moontlike ongeruimdhede...



Die antwoord op die vraag rondom die burgemeester se swart Mercedes Benz, met MAF 01 FS op sy nommerplaat, is darem nou meer duidelik. Die motor verskyn ook op die afslaer se webblad as een van die bates wat op die openbare veiling verkoop gaan word. Jabulani Sigasa het met sy aanstelling circa 2014 aangedring dat daar ‘n nuwe ampsmotor vir hom aangekoop word omdat die munisipaliteit se Lexus, nie aan sy standaarde voldoen het nie. Die swart Mercedes was toe teen ‘n geraamde koste van R800 000 aangekoop. MAF01FS was nogal gereeld gesien op die stofpaaie van ons dorpe totdat dit iewers in 2019 skielik verdwyn het - burgemeester Sigasa was woonagtig in Cornelia. Die balju kon daarop beslag gelê het omdat MPM nie hul groot skuld aan die munisipale werkerspensioenfonds kon betaal nie en dit was aangeneem dat die burgemeester se ampsmotor saam met sy amptelike woning op Frankfort op ‘n veiling verkoop was. Dit is verstommend dat hierdie luukse motor vir die laaste vier jaar in ‘n stoor staan en nie lankal deur die bankrot MPM verkoop was nie, terwyl werkers nie betaal kon word nie en dienste nie aan die gemeenskap gelewer kan word nie. Die beheptheid met die status van politieke amptenare het sederdien nie verander nie, soos geïllustreer deur die onlangse huur van luukse voertuie vir die burgemeester en speaker.



Mafube Besigheidsforum (MBF) bevraagteken of al die wetlike bepalings nagekom is deur MPM en of daar waarde verkry sal word uit die verkope van gemeenskapsbates op ‘n openbare veiling.


MBF nooi inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers uit om ons kantore by Kerkstraat 18A, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp-boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org en volg ons op Facebook.


1 view0 comments
bottom of page