top of page
  • Writer's pictureMBF

WATER EN SANITASIE - AD-HOC OPLOSSINGS WERK NIE

Op 24 November 2022 het 'n verteenwoordiger van MBF, Jacques Jansen van Vuuren in sy hoedanigheid as voorsitter van Vaaldam Reservoir Opvangsgebied Forum, die jaareind vergadering gelei in Deneysville, neffens die Vaaldamwal. Ander teenwoordiges was verskeie hoofde van Departement Water en Sanitasie (DWS), Randwater, AfriForum asook 'n paar munisipale verteenwoordigers uit die streek. Mafube Plaaslike Munisipaliteit (MPM) het vir die hoeveelste keer DWS se vereistes geïgnoreer en nie 'n verteenwoordiger gestuur nie. Dit, ten spyte daarvan dat MPM in die 2022 Groen- en Blou Druppel verslae onder die swakste-presterende munisipaliteite in die land tel. Beide MPM en die provinsiale owerhede wat verantwoordelik is vir die ommekeer by die munisipaliteit, was herhaaldelik herinner aan die verpligtigte deelname.

Infrastruktuur en sanitasie

Die grootste probleem uitgelig, is dat die waterinfrastruktuur in die streek uitmekaar val en dat die nodige personeel en/of kundigheid nie op munisipale vlak beskikbaar is nie. Dr. Johan Tempelhoff van Noordwes Universiteit (NWU) sê dit het tot gevolg dat die sanitasie van water in die gebied nie op standaard is nie. Daar is gerapporteer dat DWS op 'n relatiewe gereelde basis groot somme geld spandeer om pompstasies en rioolwerke op te gradeer. Ironies is dat hierdie uitgawes amper beskou word as 'n vermorsing van (kosbare) fondse, omdat onderhoud op munispale vlak na installasies voltooi is, nie bestaan nie.

Verspreiding van drinkwater met JoJo-tenks op vragmotors

'n Inwoner van Namahadi, in die Mafube munisipale gebied, het gevra of drinkwater wat met JoJo-tenks aangery word, veilig is vir menslike gebruik. Die praktyk is glo aanvaarbaar mits die maatskappy wat die water versprei se prosedures aan spesifieke standaarde voldoen ten opsigte van higiëne. Daar is gerapporteer dat JoJo-tenks ook in Ekurhuleni gebruik word. Dit het tydens verlede jaar se rampe aan die lig gekom dat politici finansiële voordeel uit die water aflewering trek. Die praktyk weerhou dus raadslede om fondse beskikbaar te stel vir die ontwikkeling en herstel van waterinfrastruktuur wat die gemeenskap in sy geheel sal bevoordeel.

Waterdienste-verbeteringsprogram

Met bogenoemde as agtergrond is MBF versigting optimisties oor die aankondiging van die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, se nuwe Waterdienste-verbeteringsprogram wat ondersteuning en ingryping in waterkwessies op munisipale vlak moet verseker. Hierdie program moet die ad-hoc benadering wat tans gevolg word uitfasseer. Dit is maklik om mooi planne op die tafel te sit en nuwe fasiliteite op te rig. Die toets lê egter in die suksesvolle implementasie daarvan en die onderhoud van bates na installasie/aankope.

"Window dressing" en mooi stories is lankal nie meer aanvaarbaar nie. Inwoners het ware oplossings nodig met personeel op plaaslike vlak wat na hul (die inwoners) behoeftes omsien en hul belange op die hart dra.

Inwoners, sake-eienaars en belastingbetalers word uitgenooi om ons kantore te 18A Kerkstraat, Frankfort op Maandae tot Donderdae van 08h30 tot 16h00 en Vrydae 08h30 tot 12h00 te besoek. Bel of stuur 'n WhatsApp- boodskap aan Marina by 079 145 4295. Besoek ons webwerf www.mafubebf.org


0 views0 comments
bottom of page