Die voormalige burgemeester van Nketoane Plaaslike Munisipaliteit (Reitz, Petrus Steyn, Lindley) is agt jaar tronkstraf opgelê vir bedrog en geldwassery. Die misdryf het veroorsaak dat die munisipaliteit meer as R360 000 verloor het.
Mandla Mamba en die voormalige finansiële hoof van Nketoane-munisipaliteit, Vincent Mkhefa, het saam met Caroline Nketu, ’n diensverskaffer, Dinsdag in die Bethlehem-handelsmisdaadhof verskyn en is gevonnis; Mamba en Mkhefa vir 8 jaar en Nketu vir 4 jaar. Hulle is skuldig bevind aan bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Nuwe finansiële hoof ook in hegtenis geneem
Daar blyk baie voorvalle by Nketoane te wees want onlangs is ook die hoof finansiële beampte (CFO) Xolani Malindi vir bedrog gearresteer, nadat hy na bewering 'n vals sertifikaat ingedien het in sy aansoek vir die pos van munisipale bestuurder by dieselfde munisipaliteit.
Die saak is by die Valke se ernstige korrupsie-ondersoekspan in Bloemfontein aangemeld. Malindi is op Woensdag, 8 Desember 2021 in hegtenis geneem en het dieselfde dag in die Reitz-landdroshof verskyn op 'n aanklag van bedrog. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat en die saak sal op 12 Januarie 2022 in die hof aangehoor word en sal heel waarskynlik na die Bethlehem-streekhof oorgeplaas word. Dit blyk dat hoewel die wiele van geregtigheid stadig draai, al hoe meer Vrystaatse munisipale amptenare en raadslede hulself in warm water gaan bevind. Na Andrew Hlubi by Mafube, wie sal hom volg op die pad hof toe?
Picture: Jacques Nelles
Comentários