top of page
  • Writer's pictureMBF

‘MAFUBE AMPER VRY VAN BEURTKRAG’

Die Mafube Besigheidsforum (MBF) in die Vrystaat sê hulle is net maande weg daarvan om die Mafube-munisipaliteit “vry van beurtkrag” te verklaar.



Dit is danksy die private elektrisiteitsverskaffer Rural Free State (RFS) se planne om die gebied, waaronder die dorpe Frankfort, Tweeling, Villiers en Cornelia, van ’n volhoubare oplossing vir die voortslepende beurtkrag te voorsien.


In ’n verklaring van die MBF verwys hulle na ’n sonkragplaas wat deur RFS, plaaslike boere en sake-eienaars gebou is om ’n “agri-dorpie” van krag te voorsien, en wat nou al genoeg krag opwek om die hele Frankfort van elektrisiteit te voorsien.


’n Soortgelyke aanleg in die Villiers-omgewing wek ook glo genoeg krag op om pompe en spilpunte aan die gang te hou. Ook in Tweeling word ’n sonplaas gebruik om krag aan dié dorp te voorsien.


Luidens die verklaring het Eskom in 2023 ingestem dat RFS die invloed van beurtkrag op die omgewing kan verlig, mits hulle aan spesifieke voorwaardes voldoen het. Dit het ingesluit dat RFS ’n spesifieke vorm van krag sal opwek in die tye wat Eskom ’n vermindering van die las op sy netwerk vereis.


Die MBF en RFS het eers ’n oefenlopie vir die sakegebied rondom die stadsaal-substasie in Frankfort uitgevoer om sekere verbruikers stelselmatig van beurtkrag te verlos.

Toe hulle sien die proeflopie is suksesvol, het hulle ook die woongebied wat deur die skoulaan-substasie bedien word, van krag voorsien.


Volgens MBF het die stadsaal-substasie se gebied 114 beurtkragvrye dae ervaar sedert 7 November 2023.


Die skoulaan-substasie het vanaf 28 Desember 2023 64 beurtkragvrye dae gehad.

MBF sê RFS wil teen September die hele Frankfort beurtkragvry hê, en werk ook hard in die ander drie dorpe van die munisipaliteit om dit ’n werklikheid te maak.


Joep Marais, VF Plus-raadslid in Frankfort, beaam daar is krag te midde van die beurtkragskedules in die areas waar die RFS werksaam is.


Hy sê egter ’n groot gedeelte van die dorp wat nog nie deel is van RFS se spesiale projek nie, ervaar steeds beurtkrag.


Volgens Jacques Jansen van Vuuren, skakelbeampte van die MBF, is daar 244 substasies in Mafube- plaaslike munisipaliteit, naamlik in Frankfort (93), Villiers (90), Tweeling (41) en Cornelia (20).


Hy sê die projek wat RFS loods is ’n vrywillige program waaraan die gemeenskap kan deelneem.


“Elke deelnemer betaal dan sy onkoste van die nuwe versendbare krag wat geplaas word. Kortliks werk die subskripsie uit op sowat 10% van die energiekoste van die maand. Hoe minder elektrisiteit deelnemers gebruik, hoe minder betaal hulle.”


Hy sê dit is belangrik om te weet dat geen area meer of minder beurtkrag as ’n ander kry nie. Hulle hou by die voorgeskrewe skedule soos Eskom dit aandui.


“Inwoners en ondernemings wat onder die stadsaal-substasie val, het reeds van 7 November 2023 geen beurtkrag nie omrede hulle toegang het tot versendbare krag.”


Linkie Bessinger | Netwerk24


29 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page